Jong Limpopo-boer erg beseer in ongeluk

Jeandré Booysen is tans in die hospitaal ná ‘n ernstige motorongeluk. (Foto: Facebook)

Jeandré Booysen (24), ʼn jong boer van Limpopo, is Saterdagaand ernstig beseer toe die bakkie waarin hy en ʼn vriend, Carel van Aswegen (30), gery het, kop aan kop met nog ʼn voertuig gebots en verskeie kere gerol het.

Van Aswegen is in die ongeluk dood. Volgens Booysen se familie word hy tans vir ʼn traumatiese breinbesering in die intensiewesorgeenheid van die Mediclinic Limpopo op Polokwane behandel.

Sy oupa, Peet van der Walt, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy kleinseun is tans nog onder verdowing en die omvang van sy beserings is nog nie bekend nie. Hy beplan om later vandag hospitaal toe te gaan.

Booysen boer saam met Van der Walt op Levubu, onder meer met neute en koejawels.

Volgens die familie het Booysen en Van Aswegen by die Albasinidam gaan visvang.

Hulle was Saterdagaand op pad huis toe, toe die ongeluk plaasgevind het. Luidens ʼn inskrywing op Facebook, wat deur Booysen se niggie Suené Jordaan gemaak is, is albei mans uit die voertuig geslinger en meters ver van die wrak aangetref.

Jeandré Booysen is tans in die hospitaal ná ‘n ernstige motorongeluk. (Foto: Facebook)

Sy het aan Maroela Media gesê die ongeluk word nog ondersoek en dat hulle nie in dié stadium presies seker is wat gebeur het nie. Dokters kon ook nog nie ʼn prognose maak nie en sal eers meer duidelikheid kan gee wanneer Booysen wakker word. Volgens Jordaan wag dokters vir die swelling op sy brein om te sak voordat hulle die verdowing verminder.

“Ons glo vas dat hy ten volle gaan herstel en homself sal wees …”

Jordaan sê sy het haar neef Dinsdag in die hospitaal besoek en dat hy wel op haar stem reageer het. Sy oë, hande en voete het beweeg.

“Hy wou homself oplig, maar kon nie. Hy het sy hand opgelig en my hand gesoek. Ek het vir hom gesê ek is lief vir hom, en toe kry hy ʼn traan. Hy kan my definitief hoor en herken.

“Ek het oor en oor aan hom gesê hy is so sterk en geliefd.”

Jordaan sê die familie bly positief, al is dit moeilik.

“Ons is bitter hartseer oor sy vriend Carel. Ons kan nie verstaan hoekom dit alles nou moes gebeur het nie, maar ons vertrou op God.”

Luidens die inskrywing op Facebook is Booysen se ouers kort ná mekaar oorlede en help hy sy oupa al van ʼn jong ouderdom af op die plaas.

“Hy is so lief [daarvoor] om te boer! Al van kinderdae af sal ek by maatjies wil kuier, en Jeandré sal wil werk en leer in die landerye saam met Oupa, omdat hy so ʼn groot liefde vir die natuur en boerdery het.

“In sy vrye tyd sal hy visvang. Vir daai vissies onder die water is Jeandré so lief. Hy kan vir ure in stilte sit en homself verloor in die natuur en niemand pla nie. Hy het groen hande wat vir ons land se mense gesonde, regte, vars voedsel gee. Hy doen altyd sy bes en is altyd so vriendelik,” skryf Jordaan.

Booysen het nie ʼn mediese fonds nie en al sy mediese uitgawes word tot dusver uit die familie se sak en met behulp van skenkings betaal.

Enigiemand wat ʼn bydrae wil lewer, kan Van der Walt of Jordaan by 082 564 3871 of 082 226 6255 kontak of die Facebook-blad besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vanessa ·

Ons bid saam julle dat hy volkome genees van al sy beserings.

Skappie ·

Sterkte aan hom. Mag hy sommer vinnig gesond word. Mag onse Heer hom volkome herstel, en ook almal deur hierdie moeilike tyd dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.