Jong man loop deur toe aanvallers op plaas toeslaan

Een van die voetspore wat op die toneel gevind is. (Foto: Ratel Plaasbeskermingsdienste)

ʼn Groep van minstens vier aanvallers is steeds soek nadat hulle ʼn jong man op ʼn plaas in die Kroondal-omgewing in Noordwes oorval en erg aangerand het. Die voorval het Dinsdag laatnag, of moontlik Woensdag in die vroeë oggendure, plaasgevind.

Chris Lombard, eienaar van Ratel Plaasbeskermingsdienste, sê die eienaar van ʼn kroeg op die plaas, naby die R104, het hom Woensdag ontbied nadat daar by dié kroeg ingebreek is. Die kroeg het ʼn geruime tyd tevore al sy deure gesluit.

Lombard sê hy het bloed op die perseel aangetref en daar is begin soek na die 25-jarige man wat in ʼn huis op die perseel woon.

“Ons was bekommerd oor hom en het nie geweet waar hy is nie,” sê Lombard.

Een van die talle kneusplekke wat die slagoffer opgedoen het nadat die aanvallers op hom getrap het. (Foto: Ratel Plaasbeskermingsdienste)

Die man is by sy ouerhuis, ʼn ent van die plaas, aangetref. Hy het daarheen gevlug nadat hy ernstig aangerand is. Hy is glo met ʼn vuurwapen en panga bygekom. Die slagoffer het onder meer snye oor sy kop en gesig opgedoen en het talle kneusmerke op sy lyf waar die aanvallers op hom getrap het.

Lombard sê die aanvallers het kontant en vuurwapens by die man geëis nadat hulle hom moontlik vir ʼn veiligheidswag aangesien het. Een van die aanvallers het by die slagoffer gebly, terwyl sy drie makkers na die kroeg is waar hulle die voordeur oopgebreek het.

Die slagoffer het na bewering ontsnap en die bosse ingevlug nadat die rower wat by hom agtergebly het, in die rigting van die kroeg na sy makkers gestap het.

Lombard sê twee kisvrieskaste is gebuit nadat die rowers nie toegang tot die gedeelte kon kry waar ʼn voorraad drank nog gestoor is nie.

“Dit is al wat in die kroeg was. Dit is al ʼn hele ruk gelede gesluit,” sê Lombard.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Denise ·

MOET net nie terug veg nie want dan moet jy ook hof toe en tronk toe…. presies wat ek se teveel mense word aangerand en doodgemaak maar terug baklei is so so teen die wet… wat n grap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.