Jong meisies sterf in brand

Foto ter illustrasie. (Foto: John Minchillo, AP)

Twee jong meisies, onderskeidelik sewe en agt jaar oud, is Vrydagaand dood toe ʼn huis in Witrivier aan die brand geslaan het.

Polisie in Mpumalanga sê die twee het saam met hul neefs en niggies in ʼn huis in Jerusalem, ʼn nedersetting in Witrivier, geslaap terwyl hul ouers weg was. Hul oom, wat ook in die huis woon, het by bure gekuier.

“Die oom is deur iemand in kennis gestel dat die spreilig van sy huis af was. Toe hy ondersoek gaan instel, het hy gesien dat die kamer waarin die meisies slaap aan die brand is,” het kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder van Mpumalanga, gesê. “Hy het onmiddellik by sy bure om hulp aangeklop en dié het hom bygestaan in sy poging om die vlamme te blus. Die brand het egter te vinnig versprei en die meisies is oorlede.”

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek begin om die omstandighede rakende die twee meisies se dood te bekyk.

In ʼn soortgelyke voorval in die provinsie is ʼn 38-jarige ma en haar seun verlede maand dood toe ʼn brand in hul huis in Masoyi, digby Jerusalem, ontstaan het. Die vrou se man en pa van die kind het die aand by vriende gaan kuier. Toe hy by die huis terugkom, het hy rook by die vensters sien uitborrel. Hy het die deur van die huis afgeskop en sy vrou en kind leweloos op die huis se vloer aangetref. Paramedici is ontbied en het die twee dood verklaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.