Jongboer: ‘Ek is opgewonde oor die toekoms van landbou’

Danie Bester is TLU SA se Jongboer van die Jaar vir 2020.

“As jong boer is ek opgewonde oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika.”

Só vertel die 35-jarge Danie Bester van Balfour in Mpumalanga wat vandeesweek as TLU SA se Jongboer van die Jaar 2020 aangewys is.

TLU SA het vandeesweek gesê hy was beïndruk met Bester se gebruik van die jongste tegnologie en veral die internasionale skakeling en navorsing oor gewasse. Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het gesê wat veral van dié jong boer uitgestaan het, was dat hy nie net aanpas by die hulpbronne tot sy beskikking nie, maar dit ook uitbrei en verbeter.

“Dit is presies die soort vindingrykheid waarna ons soek onder ons jong boere. Hy het ʼn blink toekoms voor hom,” het Geldenhuys gesê.

Bester beskryf homself as ’n proaktiewe boer wat sy rekenaarvaardighede met sy landboukundigheid kombineer om die maksimum wins per hektaar uit sy gewasse te kry. Hy sê ook sy liefde vir tegnologie – en hoe om dit reg toe te pas op sy boerdery – dra by tot sy sukses.

Hy gebruik al sedert 2012 hierdie innoverende tegnologie in sy boerdery.

Verder maak hy ook seker dat al sy hulpbronne oordeelkundig aangewend word en niks vermors word nie. Hy verseker dit met genoegsame agronomiese navorsing en proewe wat hy al oor die jare gedoen en ontleed het.

Dié innoverende boer sê hy skakel ook gereeld met boere in die VSA om kennis uit te ruil.

Hy bly ook graag op die hoogte van die jongste internasionale boerderyneigings.

Omtrent 99% van die tegnologie wat hy in sy boerdery inkorporeer, is van die VSA.

“Landboutegnologie in Suid-Afrika is een tree agter die res van die wêreld. Ek volg graag tendense wat byvoorbeeld in Amerika gebruik word om tips te vang vir my eie boerdery,” vertel Bester.

Van die nuwe tegnologie wat hy inspan is die opbrengsmonitor wat hy gebruik om grondontledings te doen.

Danie en sy vrou, Janet, en hul twee kinders (Foto: Verskaf)

Bester sê omdat daar so ʼn groot gaping in Suid-Afrika vir die gebruik van tegnologie soos dié is, sal die regte inwerkingstelling daarvan in die landboubedryf veel bydra tot ʼn rooskleurige toekoms vir die bedryf hier.

Bester het al van die tegnologie aan sy medeboere bekendgestel en hulle gebruik dit ook reeds.

“Omdat soveel potensiaal in SA landbou nog ontgin kan word, is ek opgewonde oor die toekoms daarvan. Veral as tegnologie soos dié van Amerika hier gebruik kan word.”

Bester verbou graangewasse soos mielies en soja, terwyl sy pa, wat saam met hom boer, die beesboerdery hanteer.

Bester boer al van kindsbeen af saam met sy pa en het na skool aan die Potchefstroomse Landboukollege studeer en daarna dadelik gaan boer.

“Om op ’n plaas groot te word, kweek ’n natuurlike liefde vir die plaas. Ek dink boer is geneties binne my.”

Hy sê om na al die jare steeds saam met sy pa te boer, is ’n groot voorreg.

“Ek volg graag in my pa se voetspore omdat hy so ʼn groot voorbeeld vir my is. Hy het ’n moeilike pad gestap tot waar hy nou is. Hy het met niks begin nie en gewerk vir wat ons het. Daarom gee ek ook my alles in die boerdery.”

Bester woon op die plaas saam met sy vrou, Janet, en hul twee kinders, Dawie (8) en Janike (3).

“Ek hoop my seun volg weer in my voetspore. Hy wys reeds belangstelling in die boerdery. Verlede week het hy ’n trekker en planter geteken en hy kon ook vir die juffrou die verskillende grondsoorte opnoem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Althes ·

Baie geluk! Ons het positiewe mense nodig en ek hou van sy uitkyk.

J ·

Hartlik geluk aan Danie en sy vrou!

Dis wonderlik om sulke positiewe jongmense te sien in ons “see van ellende en agterlikheid”!

Ons vertrou dat Danie en ander boere voortdurend sal aandag gee aan hulle veiligheid want hulle word met jaloesie dopgehou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.