Juwelier erken moord op oudleraar, sy vrou

Dr. Hannes Beukes en sy vrou, Ibel. (Foto: Facebook)

Francois Pretorius (45) is Dinsdag in die rondgaande hof in Delmas, Mpumalanga, tot effektief 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ʼn geliefde oudleraar en sy vrou van Bethal in Mpumalanga.

Dr. Hannes Beukes (70) en sy vrou, Ibel (67), se liggame is op 18 Maart 2020 in hul voertuig in ʼn stuk veld naby die Bethaldam op die dorp gekry. Beukes was jare lank die leraar van die Hervormde Kerk op die dorp en sy vrou was ʼn afgetrede onderwyseres.

Pretorius is sowat ’n week ná die moorde in hegtenis geneem. Pretorius was ʼn juwelier op die dorp asook ʼn lidmaat van die kerk waar Beukes vantevore ʼn leraar was.

Francois Pretorius.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Pretorius ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy is daarvolgens skuldig bevind op twee aanklagte van moord.

“Pretorius het in sy pleitooreenkoms erken dat die Beukes-egpaar op 18 Maart 2020 vir hom in sy huis in Rustfontein gaan kuier het. Terwyl hulle koffie gedrink het, het ’n argument tussen Pretorius en die Beukes-egpaar ontstaan,” sê Nyuswa.

Volgens die pleitooreenkoms het Pretorius die slagoffers skielik verskeie kere met sy vuiste en met ’n flitslig aangerand.

“Hy [Pretorius] het die slagoffers se liggame in die kattebak van hul voertuig gelaai, met hulle na ʼn oop stuk veld naby die Bethaldam gery en die voertuig met die liggame daar gelos. Hy het toe die slagoffers se selfone, beursies en juweliersware geneem en van die toneel gevlug.”

Die nadoodse ondersoek het aan die lig gebring dat die oorsaak van die egpaar se dood die beserings was wat hulle tydens die aanval opgedoen het.

“Die hof het geen besondere omstandighede gevind om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Christine ·

‘n Lewe beteken niks in SA. In plaas van om die beter keuse te maak en weg te stap, word verskille met geweld begroet. Hoe tragies.

Aggie ·

Die Woord waarsku ons wat “in hierdie laaste dae” sal gebeur. Gelowiges moet vasstaan in geloof,????????

ES ·

Wat ‘n siek mens… gelukkig kan hy eers uitkom as hy al self ‘n ou man is.

Drikus ·

Wat op aarde kan ons doen om die doodstraf terug te bring …

Miena ·

NIks nie. solank die MRK- Mense regte Kommissie en ons Grondwet bestaan sal die galg nie her-ingestel word nie.

Nettie ·

Geen redes word aangevoer nie? Hoe vreemd. Is dit nie belangrik tydens ‘n hof, ter wille van die familie wat met vrae gelos word nie? En mens wonder… hoe het 1 man twee mense oorval en vermoor met slegs sy vuiste en ‘n flitslig? Het hy ondervinding in vegkuns gehad, was hy net “gelukkig” dat hulle nie juis teruggeveg het nie, of het hy hulle onverwags van agter af aangeval, of wat? Soveel vrae. Maar mens is dankbaar minstens het hy erken wat hy gedoen het. Mag die families vrede daarin vind.

Niklaas ·

Geregtigheid seëvier , al is die vonnis nie juis baie swaar. 35 jaar sou beter geklink het vir so ‘n vreeslike moord.

Lillian ·

Liewe Hemel, watse onderonsie kon so erg wees dat hy albei doodslaan?

Jax ·

Ai so onnodig. Geweld is oral – nie net in SA nie. As mens kyk na al die geweld in flieks, series ens, dan kan mens ook nie te verbaas wees nie. Die opvoeding wat ons ons kinders bied, moet ook ondersoek word – leer Hulle Werklik hoe om konflik te hanteer of is dit maar die gewone: “man, gaan foeter hom as hy jou weer pla”. Daar is eenvoudig net nie meer enige naaste liefde of respek vir ander mense nie. Ek maak soos ek wil en basta met die res. Ons Bybelse waardes is die deur uit en het plek gemaak vir “ me, myself and I”. Dit is nie net die jonger mense nie – die ouer garde het, Lyk my, nou besluit om boks-handskoene aan te trek vir enige en alle. Families kom nie meer bymekaar in vrede en vreugde. Ons hele waardestelsel het induie gestort. Net met die leiding en krag van Bo, kan ons iets hieraan doen – dis te sê, as ons wil en nie weer net op ons perdjie spring en beskuldigings opper nie. Eintlik n baie siek wêreld waarin ons almal leef en die een so skuldig is soos die ander

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.