‘Jy het jou kind doodgery’ – onskuldige ma verwerk haar trauma 

Bernadette Small en haar klein AJ voor die ongeluk in gelukkiger tye. (Foto verskaf)

Jare lank het ʼn jong ma vas geglo dat sy haar driejarige seuntjie doodgery het. Haar oogappel. Haar hart se punt. Haar klein dinosourus. (Dit was sy gunsteling-speelding.) Die kind wat onafskeidbaar deel van haar bestaan was.

“Ma ry kind dood!” So het die media, en veral sosiale media, die grootste tragedie in Bernadette Small (33) en haar gesin se lewens, selfs op plakkate teen lamppale, uitgebasuin. Elke keer was dit soos ʼn dolk deur haar hart.

Sy is deur die publiek aangekla en skuldig bevind. Verguis en veroordeel.

Die polisie het ʼn saak van strafbare manslag ondersoek.

Die boodskap was; sy is ʼn slegte ma, ʼn moordenaar, wreed, gemeen, gevoelloos en ʼn misdadiger.

Dit het haar emosies lamgelê en haar van haar menswees gestroop.

Dit het nie gehelp dat sy herhaaldelik gesê het dat sy klein AJ regtig nie gesien het nie en dat sy verskriklik jammer was nie.

Eers heelwat later is ná ʼn privaatspeurder se ondersoek en forensiese toetse bevind dat dit onmoontlik sy kon wees.

Iemand anders het oor die kind gery maar die ongelukstoneel vermoedelik op so ʼn slinkse manier gemanipuleer, dat dit voorgekom het asof dit sý was.

Om oor jou enigste seun te rou en boonop met skuldgevoelens te worstel, het dié gebroke ma byna verwoes.

Dis om hierdie rede en om mense se vrae te beantwoord, asook om te vertel hoe haar geloof uiteindelik berusting en bevryding gebring het, dat Bernadette Small ʼn boek getiteld Dinosourus, ʼn docket en die dood geskryf het wat oor haar soeke na antwoorde gaan.

“Ek het nie ʼn slot vir die boek gehad nie maar aan die einde van my skryfproses in Augustus vanjaar, het die Here ingetree en vir my ʼn slot gegee.”

Bernadette vertel dat toe AJ in Februarie 2014 gebore is, hy die kleinste dingetjie was wat sy ooit aanskou het. Hy was boonop haar ewebeeld met die rooierige hare, dun beentjies en ligte vel.

ʼn Maand na sy derde verjaardag was hy weg. Vir altyd.

Haar gesin se lewens is tot stilstand geruk. Sy vertel in die boek: “Ek en Pieter is op 3 September 2011 getroud toe ek vyf maande swanger was met my dogter Jessica. Die swangerskap en geboorte het seepglad verloop. Sy was spekvet en gesond.”

“Met AJ was dit anders. Hy was piepklein en gereeld siek. Hy is een keer in die hospitaal opgeneem met brongitis en moes veg vir sy lewe. Hy was op suurstof en aarvoeding. Dit was die ene drade, pype, naalde en monitors wat piep.”

Die voorblad van Bernadette se boek ‘Dinosourus, ʼn docket en die dood’. (Foto verskaf)

Intussen is Bernadette wat ʼn graadkursus in pastorale berading voltooi het, met bipolêre gemoedstoestand 2 gediagnoseer, het aan slapeloosheid en depressie gely en is telkens in psigiatriese hospitale behandel. Sy is selfs gemonitor vir pogings van selfmoord. Dit het ʼn ewigheid geduur om die regte medikasie vir haar voor te skryf.

Tydens haar studies wou sy eendag na die dam op hul plaas se oorloop toe ry om rustigheid te kry.

“Ek klim toe in my motor, skakel die enjin aan en plaas die motor in trurat. Soos wat ek agtertoe ry, sien ek AJ se groen skopfietsie in die middel van die pad, hou stil, klim uit en skuif dit.

“As hy in die omgewing was, sou hy my beslis geroep het om saam te ry. Ek het in die motor geklim en verder verby die krale en store gery.”

Toe bel Pieter haar. Hy was histeries en onbeheerbaar.

“Jy het oor AJ gery!”

“Wat? Waar? Wanneer?”

Sy was stom van skok.

“Ek het net gevries. Ek het waaragtig niks gesien, gehoor of gevoel nie.”

Pieter se bakkie het daar aangekom met haar swaer agter die stuurwiel met Pieter aan die passasierskant met klein AJ op sy skoot.

Bernadette het agter in die bakkie gespring. Oor Pieter se skouer het dit gelyk asof AJ slaap.

Sy het noodoproepe gemaak.

“Ek het oor my kind gery… kan julle ʼn ambulans stuur om ons halfpad op die N1 rigting Koppies te kry…” het sy gesnik terwyl hulle na die hospitaal op Kroonstad gejaag het.

Sy het vergeefs in haar binneste gesmeek dat hierdie net ʼn nagmerrie moet wees waaruit sy wou wakker word.

Die ambulanspersoneel het vergeefs aan AJ begin werk maar daar was geen reaksie nie.

By die hospitaal het medici reg gestaan. Haar sielkundige en ʼn magdom polisielede was daar. Selfs die dokter het gesê dit lyk asof hulle ʼn reeksmoordenaar wil toesluit. Verklarings is by almal afgeneem.

Ná ʼn halfuur laat die dokter weet dat hulle niks vir AJ kon doen nie. Sy skedel was gekraak. AJ is dood.

Pieter het oor sy lyfie gehang hom vasgehou en onbedaarlik gehuil. Sy was te bang om naby hom te kom want sy het hom mos “doodgemaak”.

“Ek het eers net aan sy voetjies geraak wat yskoud was.”

Later was sy alleen met hom. Haar driejarige leweloos voor haar. Stukkende plekke en skrape op sy lyfie. Sy het hom op haar skoot getel met sy beentjies wat beide kante van haar heupe afhang en styf teen haar bors gedruk. Sy wou en kon hom nie los nie. Uiteindelik moes sy sodat die polisie foto’s kon neem.

“Daar lê hy toe in sy rooi onderbroekie.”

ʼn Verpleegster het vir haar kalmeerpille gegee.

“Ek wou selfmoord pleeg want ek het nie verdien om te leef nie.”

Sy onthou min van haar kind se begrafnis. Net dat dit ontsettend verkeerd gevoel het om die klein bruin kissie in die grond te laat sak met haar seuntjie daarin.

Sy wou hom in ʼn tuxedo begrawe en het die kleinste een gekoop wat hulle kon kry. Hy het vir haar so mooi gelyk met sy haartjies netjies gekam.

Bernadette Small het ‘n boek geskryf om die trauma van haar seuntjie se dood te help verwerk. (Foto verskaf)

Sy wou AJ se lykie self was. Hy het in ʼn blou lyksak halfpad oop in ʼn plas bloedwater op ʼn yskoue staaltafel gelê. ʼn Outopsiesnit en steke dwarsoor sy lyfie.

“My hart het woes begin klop. Ek het dit aan hom gedoen, het ek gedink.”

Sy en Pieter het hom saam gewas, gesmeer, weer gewas en aangetrek.
Dit was vir haar verskriklik om te dink dat hy in ʼn yskoue yskas moes lê.

Ná die begrafnis het die vrae oor AJ se dood net nie opgehou nie.

Haar pa, ʼn oud-polisieman, het ʼn privaatspeurder aangestel om te kom ondersoek instel oor wat werklik aan die gang was.

Sy eerste woorde aan haar was: “Jy is nie skuldig nie. Ek gaan bewys dat dit nie jy was nie, maar ek gaan moontlik nie kan bewys wie dit was nie.”

Die ondersoeke wat rekonstruksies ingesluit het, het maande lank geduur om te probeer vasstel of daar iets op haar motor was wat kon aandui dat sy oor haar kind gery het.

“Ek was dood in my siel.”

“Ek het elke dag by AJ se graf gaan sit en rook en drink en verder my dae om geslaap en dieper en dieper in ʼn put in weggesak. Ek het selfs opgehou eet.”

Sy het verslaaf geraak aan voorskrif slaap- en kalmeerpille, het drank en dwelms misbruik, haar eie seksualiteit tydelik bevraagteken en selfs gay verhoudings aangeknoop.

Sy het aan anoreksie en bulimie begin ly, oordosisse pille geneem en in die hospitaal se waakeenheid beland waar haar maag uitgepomp is en is daarna weereens in die psigiatriese hospitaal opgeneem.

ʼn Dossier is by die polisie oopgemaak vir strafbare manslag. Asof sy nie deur genoeg hel is om elke dag vir die res van haar lewe sonder AJ te leef nie!

Enkele dae voor die polisie by die werkers verklarings geneem het, het een van hulle raaiselagtig selfmoord gepleeg. Nog vreemder was dat sy selfmoordbrief weg geraak het. So ook die lêer met die rekonstruksie en bewyse dat Bernadette onskuldig was. Die speurder moes reël dat alles oorgedoen word.

Hulle is uiteindelik streekhof toe. Die hof het beslis dat niemand vervolg gaan word nie.

“Ek was vry en die skuldige is vrygestel.”

Die teorie

Bernadette vertel: “Ons vermoed dat AJ per ongeluk seergekry het op een of ander manier by die trekker en die implement waarop die bloed gevind is. Hy moes uit die huis uit geglip het want hy en sy nefie het onder die eetkamertafel gespeel.

“Nadat hy hierdie beserings opgedoen het, of selfs moontlik reeds dood was, is hy vir ʼn paar minute weggesteek. Ons kon dit vasstel deur die posisie waarin AJ gelê het toe hy gevind is – in ʼn fetale posisie met sy kop in die teenoorgestelde rigting as wat ek bestuur het.

“As ek hom sou stamp, sou hy in die rigting gelê het waarin ek gery het.

“In hierdie tydperk wat hy weggesteek was, het ek met my kar verby gery, verby die stoor waar hy vermoedelik weggesteek is en dit was die perfekte toneel om AJ te gaan neerlê nadat ek verby is sodat dit moes lyk asof ék oor hom gery het.

“Maar dit is regtig net ʼn teorie.”

Vergifnis

Dit gaan deesdae goed met die gesin nadat hulle in Augustus ʼn diep geestelike ervaring gehad het en daarna berusting gekry het.

Bernadette is skoon van alle afhanklikheidsmiddels.

AJ se herinneringe word lewend gehou. Sy foto’s hang oral en hulle praat oor hom.

Bernadette het die persoon wat vir haar kind se dood verantwoordelik was reeds vergewe. Sy het ʼn vermoede wie dit is. Sy kies om te glo dit was ʼn ongeluk.

“Deur nie te vergewe nie, hou ek myself gevange.”

Sy glo haar seuntjie is nou op die veiligste en gelukkigste plek.

“Vir mense wat kinders verloor het, is daar geen woorde wat kan vertroos nie.

“Al wat jy kan doen is om by die Here se voete te kniel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Karoo ·

Bernadette en Pieter, wat ‘n ongelooflike pad wat julle as egoaar en ouers saam stap. Ek weet nie of ek so sterk sou kon wees nie. Dankbaar dat jy “verlos” is van die las en dat julle nou werklik kan rou oor die mooi seuntjie wat julle verloor het.

S ·

Verskriklik, ongelooflik hartseer en absoluut wreed van die skuldige persoon wat die blaam op mamma gepak het!? Ek kan myself nie eers in dink waardeur hierdie mamma als is nie. So jammer vir jou seer, mamma. Ek het nie woorde nie.

Mel84 ·

My hart pyn letterlik as ek hierdie lees. Maar wat ‘n ongelooflike pad – en dat hulle ‘heel’aan die ander kant uitgekom het- Net God se genade. Sterkte – en jy is braaf om jou storie te deel!

sterk soos n beer ·

nie lekker om te lees nie maar dit was n ongeluk. sterkte aan die ma en bid vir haar

Bolandse Nooi ·

“Dit was ‘n ongeluk”? NIE as iemand die arme seuntjie se liggaampie gaan plaas het waar dit moes lyk asof sy ma oor hom gery het nie. Hoekom dink ek skielik dat die pa nie onskuldig is nie? As mens immers oor iets ry, selfs oor die kleinste dingetjie, vóél jy tog jy ry oor iets? En hoekom het die pa en die swaer “daar aangekom” met AJ se slap lyfie in die bakkie? As dit ek was, sou ek eerste hospitaal toe gejaag het met die kind en oppad soontoe, my vrou gebel het om te sê wat gebeur het. Iets is nie kosher hier nie.

Estelle ·

Bolandse Nooi, miskien moet jy jouself bietjie weerhou van ongevraagde kommentaar lewer oor goed waarvan jy niks weet nie. Jy is onvanpas en uit jou plek (met ander kommentaar wat jy ook plaas). Asseblief, gun hierdie mense die berusting en vrede wat hulle verdien.

melaney ·

Baie baie hartseer. Party mense kry ‘n baie swaar kruis om te dra. Ons bid vir jul gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.