Kaal vrou maak amok in bank

’n Skermskoot uit die video wat tans die ronde op sosiale media doen. Die video wys hoe ’n kaal vrou amok maak by Capitec se tak in Strand.

Capitec-bank sê hy is “diep bekommerd” oor ʼn vrou wat Dinsdag poedelnakend by dié onderneming se tak in Strand in die Wes-Kaap ingestap en toerusting beskadig het.

Die vrou is ná afloop van die voorval in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die landdroshof op die dorp verskyn.

In ʼn video van die voorval, wat tans die ronde op sosiale media doen, kan gesien word hoe die vrou kaalbas by ʼn bankier se werkstasie staan en items van die lessenaar af gryp en dan hard op die vloer neergooi.

Die 41-jarige vrou, klaarblyklik ontsteld, het niks behalwe haar skoene aan nie.

Terwyl kliënte en werknemers laat spaander, stap die vrou ook na ander werkstasies waar sy onder meer ʼn rekenaarskerm op die grond smyt.

Dit is nie duidelik wat tot die voorval aanleiding gegee het nie.

Die bank het op Twitter bevestig dat die vrou wel ʼn kliënt by Capitec is, maar glo geen probleme met betrekking tot haar bankrekening het nie.

“Die vrou is ʼn kliënt wat geld in haar rekening gehad het. Geen van haar transaksies of kredietaansoeke is deur die bank afgekeur nie. “Voordat sy by ons tak ingegaan het, het sekerheidsbeamptes haar uit ʼn nabygeleë winkel begelei.

Beeldmateriaal van die sentrum wys hoe sy haar daarna ontklee voordat sy ons tak binnegaan.”

Capitec sê hy het reeds sy eie ondersoek na die voorval afgehandel. Die polisie hanteer die saak nou verder.

“Die plaaslike polisie, wat die vrou voorheen al in soortgelyke gevalle bygestaan het, hanteer die saak op ʼn waardige wyse.”

Die bank het ook ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die vrou se waardigheid te respekteer.

“Ons is diep bekommerd oor haar en sal nie verder kommentaar lewer nie om sodoende haar privaatheid en gesondheid te beskerm.”

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging word tans ondersoek.

“Die vrou sal in die Strand-landdroshof verskyn sodra sy aangekla is.”

Meer besonderhede oor die vrou en haar toestand is nie in dié stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.