Kaapse avontuur ʼn ‘onvergeetlike’ ervaring

Kerry-Ann Marshall. Foto: Sam Clark.

Van die wêreld se voorste ultraveldatlete moes vir die afgelope paar dae hul veters styf vasgetrek het – die Kaapse terrein is immers net so taai as wat dit mooi is.

Die Kaapstadse ultra-veldwedloopbyeenkoms het vandag tot ʼn einde gekom en ʼn paar plaaslike atlete het gesorg dat die Suid-Afrikaanse vlag trots wapper.

Kerry-Ann Marshall en Naomi Brand se tekkies het ongetwyfeld die praatwerk in die 100 myl-wedloop gedoen.

Marshall se tyd van net meer as 25 uur het haar ʼn tweede plek in die vroueafdeling besorg, terwyl Brand (wat weliswaar deesdae in Nieu-Seeland woon) die derde vrou oor die wenstreep was.

Boonop kon die twee atlete onderskeidelik met ʼn algehele vyfde en sesde plek spog.

Daniël Claassen. Foto: Roy Poterill.

In die 100 km-wedloop het Daniël Claassen se tyd van 11:26:42 hom ʼn vyfde plek besorg, terwyl Matthew Healy in die sesde plek klaargemaak het. Dan was Sumé van Heerden derde in die 55 km-kategorie.

Volgens Griekeland se Fotis Zisimopoulos, wat met die louere in die 100‑myler weggedraf het, kan die Kaapse skouspel met van die beste byeenkomste in die wêreld saamgesels.

“Die roete was tegnies en jy moes jou storie tussen die klippe en plantegroei ken. Maar hierdie is bergwêreld en dit is immers waarom ons dit doen; andersins sou ons net op die teerpad gehardloop het. Dit was beslis ʼn onvergeetlike ervaring,” het die Griek gesê.

Veiligheid was die organiseerders se hoofprioriteit en meer as 160 deelnemers in die 100 myl- en 100 km-wedlope kon hul avontuur voortsit nadat sterk wind en ʼn brand gedreig het om hulle te ontspoor.

  • Uitslae:

100 myl:

Mans:

  1. Fotis Zisimopoulos (Griekeland) 20:48:17
  2. Aleksei Tolstenko (neutrale atleet) 21:30:17
  3. Elov Olsson (Swede) 22.30:11

Vroue:

  1. Hillary Allen (VSA) 24:55:22
  2. Kerry-Ann Marshall 25:39:21
  3. Naomi Brand 26:28:29

100 km:

Mans:

  1. Hannes Namberger (Duitsland) en Dmitry Mityaev (neutrale atleet) 10:35:45
  2. Drew Holman (VSA) 10:51:20
  3. Jared Hazen (VSA) 11:02:28
  4. Daniël Claassen 11:26:42

Vroue:

  1. Camille Bruyas (Frankryk) 12:15:21
  2. Mimmi Kotka (Swede) 12:35:28
  3. Vavara Shikanova 12:38:33.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.