Soorte resepte:

Kaapse restaurante van die beste ter wêreld

Een van die disse by La Colombe. (Foto: Instagram/ La Colombe)

Twee restaurante in die Wes-Kaap is onder die 100 beste restaurante ter wêreld. Dit volgens die webwerf The World’s 50 Best Restaurants. Dié webwerf het Dinsdag sy ranglys van die 100ste tot en met die 51ste beste restaurante bekend gemaak.

Die name van die 50 toprestaurante sal op 18 Julie bekend gemaak word.

Volgens die webwerf word La Colombe in Kaapstad as die 56ste beste restaurant ter wêreld beskou. Wolfgat in Paternoster is 90ste op die lys.

“Ons is in die wolke om onder van die wêreld se toprestaurante gereken te word. Baie dankie aan die beoordelaars, sowel as elke liewe kliënt wat ons die afgelope jaar ondersteun het,” het La Colombe in ʼn Facebook-inskrywing gesê. By dié restaurant kan jy ʼn negegangmaaltyd teen ʼn “afslagprys” van ongeveer R900 geniet.

Die lys van beste restaurante word jaarliks sedert 2002 uitgereik en word saamgestel deur meer as 1 000 koskenners sowel as ʼn gestruktureerde stemproses.

La Colombe in Kaapstad. (Foto: Facebook/La Colombe)

Die DA in die Wes-Kaap het ook die twee restaurante gelukgewens en gesê dit is “geen verrassing” dat die enigste restaurante wat dié lys gehaal het, in die Wes-Kaap gesetel is nie.

“Ons provinsie is ʼn bastion van kultuur en ontspanning. Wolgat het die lys gehaal ten spyte daarvan dat dit in ʼn klein dorpie geleë is, danksy die verskeidenheid toeristeaanloklikhede in die Wes-Kaap,” lui die party se verklaring.

Ander restaurante op die lys sluit in Alcalde (51) in Guadalajara, Mexiko, Lyle’s (54) in Londen en Sazenka (59) in Tokio. Vir die volledige lys klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eden ·

Stuur bietjie pryse op die spyskaart aan. Ek sukkel om Wimpy ontbyte vir die hele gesin te koop.

absoluut ·

daai is verseker net vir die ryk mense en nie vir die normale mense in SA nie

Tanniepetoors ·

Ek kan my nie indink wat op my bord moet wees dat ek bereid sal wees om R900 net vir die kos te betaal nie.

Delia ·

Ek stem. Klink soos n prys wat net oorsese toeriste kan bekostig

Nommer 7 ·

Delia, en en my vrou was na so ‘n 3 uur lange negegang maal genooi. Dit was ‘n eerste. Die kos was ongelooflik en die smake hemels. Jy eet bekende kos, maar dit word so voorberei dat die smake iets is wat jy jouself nie kan indink nie. Ons het daardie dag besluit ons gaan minder Spur en Whimpy toe, en gebruik eerder daardie geld om een maal per jaar te gaan vir ‘n “fine dining”. Probeer dit, jy sal nie spyt wees nie. Dit is bietjies kos op ‘n slag, maar jy is erg versadig aan die einde.

absoluut ·

ek hou maar by my mieliepap en braaivleis dankie en meer as net 1 maal n jaar en verseker baie lekkerder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.