Kaapse vierling sterk goed aan

Jean hou een van sy babadogtertjies se handjie vas

Jean hou een van sy babadogtertjies se handjie vas

Tracy du Plessis het Sondagaand vir die eerste keer een van haar vierlingdogtertjies vasgehou nadat hulle amper twee weke gelede gebore is.

Die vierling wat in die Mediclinic Panorama-hospitaal in Kaapstad gebore is, sal egter nog langer as ’n maand in die hospitaal moet bly. “Dis maar ʼn moeilike ding. Ons het nou die titel van ouers, maar is dit nog nie in daad nie,” het Jean du Plessis, die vierling se 30-jarige pa, Maandag aan Maroela Media gesê.

Hannah, Isabella, Grace en Jane het op 10 Desember ná ʼn keisersnee die eerste lewenslig aanskou. Die vier Du Plessis’tjies het onderskeidelik 1 160 g, 980 g, 1 205 g en 1 190 g by geboorte geweeg.

Volgens Jean gaan dit onder die omstandighede goed met die babas. “Elke week is dit op en af. Grace en Jane het vroeër die week infeksie opgedoen, maar hulle is nou stabiel. Hannah en Isabella doen goed. Tracy kon Hannah gisteraand vir die eerste keer vashou. Dit is baie moeilik as hulle siek is, want ons kan niks doen nie. Mens kan dalk nou en dan hulle handjies vashou, maar jy voel so magteloos.”

Tracy saam met Hannah

Tracy saam met Hannah

Tracy (29) gaan voltyds ma wees wanneer die vier dogtertjies ontslaan word. Volgens Jean het hulle ʼn oppasser aangestel wat met die kleingoed sal help wanneer hulle eers tuis is by die gesin se huis in Brackenfell. ʼn Nagverpleegster sal Jean en Tracy ook vir eers uithelp om in ʼn roetine te kom.

Jean en Tracy is al sedert 2001 ʼn paartjie en is op 16 Desember 2006 getroud. Hulle het in 2008 besluit om met ʼn gesin te begin. Na jare se onsuksesvolle probeerslae het Tracy op 10 Junie vanjaar uitgevind sy is swanger nadat sy vir die tweede keer in vitro-bevrugting ondergaan het.

Volgens Jean was hulle geskok toe hulle uitgevind het Tracy is swanger met ʼn vierling. “Ons kon vir sowat drie dae skaars praat en het net begin lag as ons vir mekaar gekyk het. Daarna dring dit deur en dan begin jy dink aan die gevolge soos hoe gaan haar lyf dit hanteer en hoe bekostig mense vier babas.”

Hy het gesê hulle was ook bekommerd oor die gevare verbonde aan ʼn meervoudige geboorte. “Ons het egter volle vertroue gehad in ons bekwame dokters.”

Ons het ook geweet die Here het ons sover gebring en dat hy ons sal deurdra.

Jean en Tracy het ʼn Facebook-groep gestig nadat hulle uitgevind het hulle verwag ʼn vierling. Die dogtertjies se vordering kan op die groep gemonitor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Thea Swart ·

baie baie geluk mag hierdie 4tjies julle lewe so vol liefde en geluk bring dat julle nooit die einde daarvan sal beleef nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.