Kaapstad soek meer private beleggers by hawe

Groot opknappingswerk is reeds by die Kaapstadse hawe gedoen en verdere verbeterings word beplan. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die Stad Kaapstad ondersoek verskillende opsies om groter betrokkenheid van die private sektor by die stad se hawe te bewerkstellig.

“Die sleutel tot die sukses van die Kaapstadse hawe, en al die voordele wat dit gaan meebring, is deelname van die private sektor soos in die geval van die hawens by Durban en Ngqura,” sê Mireille Wenger, die Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede.

Verteenwoordigers van oor die hawe-waardeketting, kenners in seevervoer en senior leiers van Transnet het die afgelope naweek vergader om beter samewerking tussen alle betrokkenes te bewerkstellig.

“Ons het die uitwerking en sukses van samewerking met die private sektor in die hawens van Maputo in Mosambiek en Cartagena in Colombië gesien. Ons sien soortgelyke sukses in mededingendheid en dit is hoekom ek vas glo dat die Kaapstadse hawe as ʼn prioriteit by Operasie Vulindlela ingesluit moet word om die vennootskappe wat ons nodig het om sukses te behaal, te ontsluit,” sê Wenger.

Operasie Vulindlela is ʼn inisiatief van die presidensie en die nasionale tesourie om die inwerkingstelling van strukturele hervorming te versnel en ekonomiese herstel te steun.

Wenger sê dit is belangrik om ʼn model te vind wat so gou moontlik vrugte sal afwerp. Daar word ook gekyk na moontlikhede om belegging verder as die hawe na binnelandse netwerke uit te brei om so druk op die hawe te verlig en kapasiteit in die provinsie te verhoog.

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Verskeie verbeterings is die afgelope jaar by die hawe aangebring. Die wagtye vir vaartuie is boonop van 4,3 dae in die eerste helfte van verlede jaar tot 1,5 dae in die tweede helfte van die jaar verminder en die gemiddelde omkeertyd van skepe is van 9,7 dae tot vyf dae verminder.

“Ons moet nou voortbou op ons sukses deur vennootskappe aan te gaan en regdeur die hawe-waardeketting saam te werk,” sê Wenger.

Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap, het die belang van die hawe vir die landboubedryf benadruk.

“Die Wes-Kaap is verantwoordelik vir 53% van Suid-Afrika se landbou-uitvoere en 80% van ons uitvoere gaan deur hawens. Ek is ingenome met die vordering en die toekomsplanne van vervoer in die sektor om ons trots Wes-Kaapse uitvoere verder uit te brei.”

Wenger sê ook daar moet nou harder as ooit gewerk word om die volle potensiaal van die hawe te ontsluit sodat dit tot die ekonomie kan bydra en duisende bykomende werksgeleenthede vir die provinsie en die land kan skep.

“Eenvoudig gestel: indien die hawe werk, werk ons ekonomie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

DA, julle moet harder werk en ‘n sterk Wes Kaap aan die ANC oorhandig in 2029.

Mnr De Beer ·

DA. Julle moet sterk wees en aanhou hard werk om die Wes Kaap te verdedig teen die inmeng van ANC korrupsie.

Harley Davidson ·

Die Wes Kaap moet afstig en ‘n onafhanklike staat word dan is daar weer hoop vir Afrika al is dit net die heel suidelike punt.

Vonny ·

Ons beplan om binnekort na die mooie wes kaap
( stukkie ou SA)
Te trek.
Kannie meer wag!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.