Kampioenswemmer, gidshond hou lyf model

Cornelle Leach en Vogue op die loopplank. (Foto: Facebook/Helon Melon)

As ʼn kampioenswemmer met ʼn siggestremdheid het Cornelle Leach nog altyd geglo dat baie vermag kan word wanneer ʼn mens bereid is om buite jou gemaksone te tree.

Daarom het sy nie gehuiwer nie om namens die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging vir Blindes ʼn stylvolle tree buite haar eie gemaksone te gee en saam met haar gidshond, Vogue, model te speel tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse Modeweek.

Stargardt se siekte, ʼn toestand wat nie net haar sentrale sig beïnvloed nie maar ook haar vermoë om detail te sien, is op ʼn jong ouderdom by die 24-jarige Cornelle gediagnoseer. Dit het vererger en in die afgelope paar jaar het sy die meeste van haar sig verloor.

Daarom het sy en Vogue, haar gidshond van vier jaar, hulle deel gedoen om vanjaar se modeweek meer inklusief vir siggestremdes te maak. Hulle het in ʼn skepping van die Helon Melon Studio op die loopplank tydens ʼn modevertoning by Mall of Africa in Midrand verskyn.

“Die Gidshondvereniging het my ʼn week voor die geleentheid gebel en gevra; ‘Cornelle, sit jy? Want jy gaan dalk wil omval as ons nou dié nuus met jou deel’,” vertel sy aan Maroela Media.

Vogue. (Foto: Facebook/Helon Melon)

SA Modeweek ondersteun die Gidshondvereniging se inisiatiewe en volgens Cornelle sou daar eers volgende jaar iemand namens hulle op die loopplank wees.

“Toe sê hulle nee, hulle soek iemand sommer al die volgende week. Dit was alles baie spontaan en ek het nooit gedink dat so ʼn geleentheid oor my pad sou kom nie. Ek het dadelik ja gesê.”

Cornelle sê sy en Vogue, wie se naam heel gepas vir ʼn modegeleentheid is, het vooraf ʼn paar keer saam geoefen om die loopplank baas te raak en sy sê dat dié woef sommer vinnig-vinnig haar innerlike Cindy Crawford na vore gebring het.

“Ek het nie ervaring in modelwerk nie, so ons moes leer hoe vinnig om te loop en wanneer ons moes omdraai. Vogue was wel so natuurlik, sy loop asof sy geen sorge in die wêreld het nie en swaai graag haar boudjies. Sy is ʼn regte drama queen en diva’tjie,” skerts sy oor haar vierpotige kameraad.

Die skoenlappers in Cornelle se maag het gelukkig vinnig verdwyn toe sy uiteindelik haar eerste paar tree tydens die modeparade op die loopplank gegee het.

“Die hele ervaring het my selfbeeld ʼn groot hupstoot gegee. Ek was baie gemaklik en dit het so natuurlik gevoel. Toe die skare vir ons hande klap en skree, moes ek myself herinner om nie té veel te glimlag nie en ook nie te begin huil nie. Niks kon my onder kry op daai oomblik nie.”

Sy terg dat die geleentheid se korte duur die enigste nadeel was en sê sy is selfs daarna aangespoor om ʼn modelportefeulje van haar eie te begin opbou.

“Die ironie is dat ek nie ʼn goeie selfbeelddag gehad het toe ek die oproep van die Gidshondvereniging ontvang het nie. Vroue sal verstaan dat ʼn mens mos net daai dae kry waar sy sonder verduideliking nie mooi of goed voel nie. Om dan te hoor dat jy aan die kriteria voldoen en mooi genoeg is om op ʼn loopplank te verskyn, het my selfbeeld ongelooflik opgebou.”

Sy hoop dat haar ervaring ander mense sal inspireer om nie in grense vas te staar nie en ook die modebedryf sal aanmoedig om meer inklusief teenoor mense met gestremdhede te wees.

“Baie mense, ek inkluis, het nie eens gedink dat só ʼn geleentheid of loopbaanrigting ʼn moontlikheid vir mense soos ek is nie. Ek het myself ook nou verkeerd bewys.”

Cornelle en Vogue. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karoo ·

Wat ‘n posetiewe storie, dankie Cornelle en Vogue, vir die “vars” bries wat julle na die mode wereld ingebring het ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.