Kan jy sonder Eskom klaarkom?

Argieffoto: Pixabay

Eskom het verbruikers dié week gemaan om krag spaarsamig te gebruik om sodoende druk op die kragnetwerk te verlig. Beurtkrag is moontlik spoedig weer Suid-Afrikaners se voorland as gevolg van lae steenkoolvoorraadvlakke by tien kragstasies. Boonop hang drastiese verhogings in elektrisiteitspryse ook soos ʼn swaard oor verbruikers se koppe. Moet verbruikers nóú inisiatief neem om hul eie krag op te wek?

Albrecht Holm, afgetrede argitek van Pretoria wat op ʼn plaas in die Hartbeespoort-omgewing woon, leef al 43 jaar lank totaal en al onafhanklik van die nasionale kragnetwerk. “Ons was in 1975 seker die eerste mense wat sonenergiepanele vir huishoudelike gebruik geïnstalleer het. Dit was destyds nog duur en nie so doeltreffend nie. Maar met die jare het die tegnologie verbeter en dit verbeter steeds. As jy dit eers het, is dit ʼn belegging en jy het geen lopende koste nie,” sê Holm.

Hy wek sy eie krag op vir alles in om die huis, selfs wasmasjiene, ketels, ys- en vrieskaste, stryk- en kraggereedskap. Aanvanklik het die gesin eers alle besparingsmetodes ingespan om hul kragverbruik tot die minimum te beperk, soos LED-ligte, songeisers, trombe-vensters, dakoorhange en gordynbestuur, en daarna ʼn stap verder gegaan deur sonenergiepanele, batterye en omsetters aan te skaf.

Kan Jan Alleman onafhanklik van die kragnetwerk wees?

Energiekenner Chris Yelland sê dit is tegnies moontlik om onafhanklik van die nasionale energienetwerk te word deur krag privaat op te wek, maar dit is kapitaalintensief en sal waarskynlik verg dat ʼn mens sy lewenstyl moet aanpas.

“Sonkrag is ʼn uitstekende alternatief, maar dit is eintlik net doeltreffend deur die dag wanneer die son skyn en wanneer die meeste mense nie tuis is nie. Huishoudings gebruik vroegoggend en saans die meeste krag, wanneer die son nie skyn nie. As jy sonkrag opwek en in batterye moet stoor, styg die prys van jou belegging weer aansienlik.”

Argieffoto

Holm stem saam en sê die beste manier om sonenergie te gebruik, is met so min as moontlik omskakeling, want batterye is die swak skakel in die ketting. “Dit is duur en hou nie lank nie,” verduidelik Holm. “Jy verloor ongeveer 20% van die energie terwyl jy dit in die battery stoor en weer ongeveer 20% as jy dit daaruit haal. Dus kry jy net sowat 64% van die energie wat die sonsel jou gegee het nadat jy dit deur die battery laat gaan het.

“Die sonpaneel moet ook die sonlig na warmte en die warmte na elektrisiteit omskakel. In die huishouding skakel jy die elektrisiteit weer om na lig, warmte of beweging. By alle omskakelings is daar verliese.”

Yelland glo egter dat son- of windkragopwekking baie sinvol vir besighede is wat daardie krag deur die dag, wanneer dit opgewek word, kan benut.

Volgens Brett Cohen, eienaar van The Gas Company, is gas ʼn goeie alternatief omdat dit maklik bekombaar is en aan die meeste basiese energiebehoeftes voldoen, soos ʼn warm maaltyd, ʼn warm stort en genoeg lig om jou weg deur die huis te vind. “Gasverhitting is meer doeltreffend as elektriese geisers. Om kos op ʼn gasstoof gaar te maak is ook baie goedkoop – ʼn 9 kg-bottel kan ʼn gesin van vier tot ses mense vir ses maande hou,” sê Cohen.

Brett Cohen, eienaar van The Gas Company. Foto: Verskaf

Hy sê dat ʼn gesin van vier wat gas gebruik om water te verhit en kos te maak slegs sowat R1 000 tot R1 250 per maand vir gas betaal, wat aansienlik minder as die gemiddelde huishouding se Eskom-rekening is. “Jou elektrisiteitsuitgawe per maand sal beslis laer wees as jy gas gebruik, maar die grootste voordeel wat gas inhou, is om onafhanklik van die staat se wisselvallige kragvoorsiening te wees.”

Cohen sê tegnologie het nou ook tot so mate verbeter dat gas ʼn geriefliker opsie geword het. “By The Gas Company is daar sensors van voortdurend gasverbruik monitor en dié data draadloos aan The Gas Company se bedieners stuur. Wanneer ʼn huis se gasvoorraad min raak, sal die huiseienaar deur die verskaffer in kennis gestel word. Die eienaar kan direk by die verskaffer bestel wat vol gasbottels sal aflewer voor die huidige gasbottels leeg is.”

Hoe gaan ʼn mens te werk?

Yelland moedig mense aan om wel hul Eskom-krag met alternatiewe kragbronne aan te vul. “ʼn Mens kan maklik parallel met die nasionale kragnetwerk funksioneer deur minder Eskom-krag te koop terwyl ook van alternatiewe kragbronne gebruik te maak. Gebruik die alternatiewe krag dan as jou primêre bron en vir jou primêre behoeftes, maar bly op die nasionale kragnetwerk, sou jou eie opwekkingsmetodes jou in die steek laat.”

Holm meen dat kennis van jou omgewing die verbruiker wat sy of haar eie krag wil opwek, baie kan help. “In Suid-Afrika is daar besonder groot klimaatsverskille van plek tot plek. Die energiebehoeftes en beskikbare natuurlike hulpbronne is dus baie verskillend van plek na plek. Op plekke sal daar meer wind- of waterenergie beskikbaar wees as sonenergie. Op ander plekke sal daar volgens seisoene verskillende energiebronne wees. Vermy dus modes wat klakkeloos van Amerika of ander plekke oorgedra word en doen eerder navorsing oor jou eie area.”

Die kapitaalopbrengs op lang termyn is die bepalende faktor wanneer mense moet besluit of hulle in alternatiewe kragbronne wil belê, meen Yelland. “Die harde werklikheid is egter dat die meeste mense in die huidige ekonomie nie die kapitaal het om so ʼn belegging te maak nie. Dán moet daar erns gemaak word met besparingsmetodes om kragverbruik te verminder sodat Eskom se onvoorspelbare kragvoorsiening en stygende pryse jou nie lamlê nie. As jy spaarsamig met krag werk, kan jy jou energieverbruik maklik halveer.”

Holm beklemtoon ook dat Jan Alleman besparingsmetodes moet inspan en ekologies begin dink en leef. “Dis die belangrikste. Moenie stadiger leef nie – leef voluit, maar vermy vermorsing en streef na maksimum uitset/produksie met minimum verbruik. Oes reënwater. Gebruik gryswater van storte en wasmasjiene om die tuin te besproei en toilette te spoel. Daar is ʼn ontwikkeling van droë toilette wat water bespaar en kompos maak. Vervang swembadfilters met rietbed-watersuiwering. Maak jou eie kompos en groentetuin. Vermy plastiek en ander materiale wat ʼn besoedelingsprobleem is. Maak die kopskuif en gaan voluit daarvoor!”

Argieffoto: Pixabay

Moontlike oplossings op nasionale vlak

ʼn Wêreldwye tendens wat ook ʼn verskil aan Suid-Afrika se nasionale kragvoorsiening en -prys kan maak, is om elektrisiteit nader aan die verbruiker op te wek, meen Yelland. “Dit sou veel doeltreffender en meer ekonomies wees om honderde of duisende kleiner kragstasies te bou, sodat kragverspreiding nie so duur is nie en ʼn probleem by ʼn enkele stasie nie so ʼn groot impak hoef te hê nie. Op dié manier kan ook meer alternatiewe kragstasies gebou word, sodat ons nie so afhanklik van steenkool hoef te wees nie.”

Holm is van mening die regerings van onderontwikkelde lande se perspektief oor energie-opwekking en ‑verbruik het ʼn negatiewe uitwerking op die land se ekonomiese groei. “Dié regerings meet hul bevolking se ontwikkelingspeil aan die energieverbruik, in plaas van produksie gedeel deur energieverbruik. Solank hulle dít doen, sal hulle onderontwikkeld bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maljan

As mens dan elke kragiowekker, solarpaneel, sonkrag geyser of lig moet registreer? Wat si dir doel van die registrasie? Netnom ons te belas om die meerderheidswoonbuurte se gebruik te subsideer.

Essie

Ek stem mt maljan saam dis seker die staat se manier om mense wat n plan maak om volhoubare elektrisiteit vir eie gebruik op te wek ook te belas,dis daai persoon wat onkostes aan gegaan ht om hom en sy gesin te beskerm teen onsekere krag te korte.

Johan H.

Die staat is daar om geld te maak. Kyk hoe word jy belas as jou eie veiligheid opskerp.. wat eintlik die regering se werk is…

Dries du Toit

Hierdie bevestig net weer die wat saam hoort moet bymekaar kom en ons eie grondgebied en regering kry waar ons ongehinderd hierdie innoverende gesprekke en doelwitte onverpoosd tot uiting kan bring

Karolis

Die gesin van 4 tot 6 moet spaarsaam werk om 6 maande met 9kg gas uit te kom.