Kankerbehandeling kry hupstoot in Gauteng

Steve Biko- akademiese hospitaal (Foto: ANA)

As deel van die uitbreiding van kankerdienste by die vier akademiese hospitale in Gauteng het die provinsiale departement van gesondheid in Linac-versnellingsmasjiene ter waarde van altesaam R500 miljoen vir kankerbehandeling belê.

Dié masjiene is in die laaste twee boekjare (2019/’20 en 2021/’22) aangekoop vir die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg, Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria, Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal in Johannesburg en Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal in Pretoria.

Linac-masjiene word gebruik vir die bestraling van kankergewasse. Die masjiene fokus met presiese akkuraatheid en teiken slegs die gewas en nie nabygeleë gesonde weefsel nie.

Volgens Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het die Chris Hani Baragwanath-akademiese hospitaal altesaam R104 miljoen belê om twee Linac-masjiene in Februarie vanjaar aan te skaf. Die hospitaal is besig om ʼn bunker te bou vir die gebruik van die masjiene.

Die Charlotte Maxeke-akademiese hospitaal het meer as R216 miljoen in die laaste twee finansiële jare belê in die aankoop van vyf Linac-masjiene. Van die vyf masjiene moet drie nog in gebruik geneem word.

Die Dr. George Mukhari-akademiese hospitaal het altesaam R52 miljoen belê vir een van dié masjiene. Dit sal so gou as moontlik in werking wees sodra bunkerkonstruksie voltooi is. Die Steve Biko-akademiese hospitaal het altesaam R186 miljoen in vier masjiene belê en al vier word reeds gebruik.

Volgens Kekana is die uitdaging vir die Charlotte Maxeke- en Steve Biko-hospitaal dat albei nie genoeg personeel het om al die masjiene teen volle kapasiteit te laat loop nie.

“Die departement werk egter saam met die nasionale departement van gesondheid om menslike hulpbronkapasiteit te verbeter,” sê hy.

Kekana sê een van die groot suksesse vir kankerbehandeling in die provinsie was die begin van ʼn prostaat bragi-terapie-program by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal verlede jaar in samewerking met Charlotte Maxeke.

“Ongeveer 30 pasiënte ontvang behandeling met prostaat bragi-terapie, wat ʼn eerste in die Gautengse openbare gesondheidsektor is. Die program gaan voort, en dit het ten doel om minstens 50 pasiënte per jaar te behandel.”

As deel van verdere pogings om voorsiening vir kankerbehandeling in die provinsie uit te brei is die Soweto Comprehensive Cancer Centre in vennootskap met die Bristol Myers Squibb-stigting (SCCC) verlede jaar by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geopen.

Die opening van die sentrum het verseker dat pasiënte wat in Soweto en Johannesburg-Suid woon, nie meer hoef te reis na die Charlotte Maxeke-hospitaal vir kankerbehandeling nie.

Die eenheid het ook goeie vennootskappe met kankerondersteuningsgroepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Kokerboom ·

Hennie..ek haal LUR aan: ” Ons het nie ‘n geldtekort, maar ‘n begrotingstekort!!!….”r

Marius ·

Nog goeie nuus. Hoop daar is geld om die masjiene in stand te hou.

Di ·

Wonderlik, ek wonder net hoe lank hierdie toerusting in werking kondisie gaan bly

Samuel ·

Hoelank sal dit goed gaan. Is daar kundiges wat die nuwe toerusting in stand kan hou?

Johan ·

Met almal wat die vax gevat het is dit dalk n goeie belegging.

Darkwing Duck ·

Fantasties, maar CMJAH se kankerpasiente word herlei omdat hulle nie die hospitaal kan klaarkry na die brand nie. Dan help al hierdie duur toerusting mos niks as dit onder plastiek staan en stof opgaar nie.

Miena ·

Hoe lank gaan hulle operasioneel wees? Is daar geld om hulle te diens en te onderhou? Is daar n persoon in SA wat weet hoe om die roetine asook “emergency breakdown” instandhoudings-dienste te doen? wat gaan daai kostes beloop? Of moet die masjiene ook weer teruggestuur word na China of Switzerland of wie-ook-al-weet-land toe vir reparasies? Dalk moet daar n persoon en n skeepsvrag ekstra saamgekoop word met nuwe masjienerie parte sodat niemand hoef van bakboort na stuurboort gestuur te word nie…

Boer ·

Mense julle lewer darm negative kommentare. Ek weet hoe voel dit om n persoon wat kankaer in my huis te ondersteun. Gelukig het ek n mediese fonds wat help. My rek van die mediese fonds beloop +- n miljoen en die is vir leukemia. Daai fondse sal baie help want ek sou seker my kind al begrawe het as ek nie n medies gehad het nie. Ek is bly vir Steve Biko Hospitaal , Chris Hani Baragwanath Hospitaal en Dr. George Mukhari Hospitaal. Want dit kan n verskil maak. Sterkte aan wat kanker het.

Rooikopheks ·

Ek stem met jou saam Boer, mense is gou met negatiewe opinies. Weet hulle hoe magteloos mens voel as een van jou geliefdes met kanker gediagnoseer word.

Miena ·

Ek vra om verskoning indien my reaksie negatief voorgekom het. Dit is n feit dat instandhouding gedoen moet word met masjienerie, asook die nodige gekwalifiseerde persoon met ondervinding om daardie toestel te diens. Dit gebeur in rare gevalle. Ek weet hoe dit voel om familie / vriende met kanker te he of gediagnoseer was – my oorlede stiefma: longkanker, oorlede skoonma: Longkanker, oorlede pa: kolonkanker, my ma (lewendig): melanoom- en maagkanker (male sonder tal al gesny en geskraap) kom elke keer agressiewer terug. Ek weet wat is dit om daai familielid te versorg tot op laaste asemteug. My vriendin van 18jr al – Borskanker (beide borste). sy ontvang chemo & radiasie, wel indien sy gelukkig is wanneer die radiasie apparaat wel werk. Sy woon in Mokopane (L) en reis Carletonville toe vir behandeling. n Kolega: Breinkanker (en sy het nou n 1jaar oue baba dogter). Ek self het onlangs n biopsie laat doen op n paar vergroeisels op lyf (rug, arms en kop) – wag vir uitslag.

Miena ·

Ek sien jou kommentaar en ek stem saam dat dit goed is en dat die masjienerie kan help. Jy is in n bevooorregte posisie om medies te he en jou kind te kan vervoer. My pa (68) is laasweek Maandag oorlede aan Kolon Kanker (Metastatic Carcinoma: Colon Carcinoma) aldus die Dr. in die hospitaal wat die DHA1663 vorm ingevul het. Hy het nie medies gehad nie en is al vir afgelope 6 jaar bedleend na erge beroertes wat hom stom en verlam gelaat het (soos n baba moes ons 24HR na hom omsien). Ons het nie geweet van die Kanker nie – tot hy geen stoelgang gehad het vir amper 12 dae nie en toe die hospitaal toetse doen. Die uitslag is laas Sondag ontvang deur die Dr en Maandag 15H00 is hy oorlede. Ek moet egter n pluimpie gee vir hierdie Staatshospitaal waar my pa was. Bronkhorspruit Algemene Hospitaal is skoon en die personeel is baie behulpsaam gewees met baie empatie en simpatie aan ons. Ek hoop regtig van harte dat julle genesing sal ontvang en dit gaan net goed gaan met julle. Sterkte.

Mallie ·

Ek sal graag wil weet wie is opgelei om sulke duur aparaat te gebruik.

Perdeby ·

Is daar mense en geld om dit in stand te hou?? Dis die groot vraag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.