Kanovaarder se liggaam gevind

Giel van Deventer (Foto: Giel van Deventer, Facebook)

Die bekende kanomarathonroeier Giel van Deventer (72) se liggaam is Maandag in die Breërivier gevind.

Volgens sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, het die polisie se duikeenheid en lede van die honde-eenheid Van Deventer se liggaam Maandagoggend in die rivier gekry.

Van Deventer het vermoedelik verdrink nadat hy Saterdagmiddag in die Breërivier naby Swellendam in die Wes-Kaap verdwyn het toe sy kano omgeslaan het. ʼn Soektog na Van Deventer het sedertdien voortgeduur.

“Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek geopen en ʼn nadoodse ondersoek sal later in die week uitgevoer word,” sê Spies.

Die familie moet nog die liggaam uitken.

Maroela Media het vroeër berig Van Deventer het Saterdagmiddag saam met ʼn mederoeier, Lodewyk Rabie, aan ʼn naweekwedvaart in die Breërivier deelgeneem. Hul K2-kano het naby die wedren se eindpunt ʼn boomstomp getref, waarna die kano omgeslaan het.

Rabie het daarin geslaag om na die rivierbank te swem, terwyl Van Deventer in die water verdwyn het.

Polisieduikers is na die toneel ontbied en het onmiddellik ʼn soektog na Van Deventer van stapel gestuur. Die soektog is later afgelas weens die swak ligtoestande en die soektog is Sondag hervat.

Die vlak van die rivier – wat teen Saterdag reeds oorvol was – het oornag gestyg, wat die soektog Sondagoggend nog verder bemoeilik het.

Van Deventer is ʼn kranige roeier en het in Augustus verlede jaar sy 50ste Bergrivier-roeimarathon voltooi. Hy het in 1967 aan sy eerste Bergrivier-marathon deelgeneem.

Hy hou die rekord vir die persoon wat die meeste kere dié taai marathon voltooi het.

Die Bergrivier-marathon is bekend as een van die taaiste roei-uitdagings in Suid-Afrika, met die strawwe Wes-Kaapse winterweer en die blote afstand van die wedren wat bykomende uitdagings bied.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Wat ‘n legende. Die hartseer is groot maar dankbaar vir sy familie dat sy liggaam gevind is. Mag God jul onderskraag in hierdie hartseer tyd. Hy het tot op die laaste gedoen waarvoor hy geleef het. RIV oom Giel.
NS. Dankie aan die soekgeselskap en polisieduikers wat onverpoosd gesoek het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.