Kantoorhoof van Gift of the Givers in Gaza dood

Ahmed Abbasi (Foto: Verskaf)

Die hoof van die humanitêre noodlenigingsgroep Gift of the Givers se kantoor in Gaza is Donderdagoggend tydens ’n aanval in dié enklawe dood.

Ahmed Abbasi, ’n Palestynse pa van drie, en sy broer het Donderdag van oggendgebed teruggekeer toe albei te midde van voortslepende gevegte tussen Israeliese soldate en Hamas-magte om die lewe gebring is.

Abbasi is in 2013 as die hoof van Gift of the Givers se kantoor in die streek aangestel.

Ali Sablay, verbonde aan Gift of the Givers in Suid-Afrika, sê Abbasi was verantwoordelik vir die implementering van verskeie projekte in die Gazastrook, waaronder die versorging van weeskinders, weduwees, bejaardes en siekes.

“Hy het water deur ons ontsoutingsaanlegte gelewer, kospakkies uitgedeel, warm etes verskaf en beskadigde huise opgeknap.”

Sablay bestempel Abbasi as “’n vriendelike, sagte, warm mens”.

“Ons is dankbaar dat hy ons vir veertig opeenvolgende dae gedurende hierdie oorlog gedien het.”

Ongeveer 1 200 mense, meestal burgerlikes, is dood en sowat 240 mense as gyselaar geneem toe Hamas ’n verrassingsaanval op Israel op 7 Oktober geloods het.

Dit is meer as vyf weke later en Israel se vergeldingsveldtog in Gaza duur voort.

Amptenare in die Hamas-beheerde gebied sê die dodetal in Gaza staan tans op meer as 11 500. Die meerderheid van die slagoffers is ook burgerlikes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Skappie ·

So jammer om te hoor. Mag ons Liewe Heer sy gesin en almal wat hom geken het, deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle dra.

Althes ·

My innige simpatie met ñ kollega en vriend van Gift of the Givers.

Karoo ·

Wat ‘n reuse verlies aan iemand/mense/organisasie wat vir almal met oophande gee. Inige simpatie aan vriende en familie.

Michele ·

So jammer. Daar is nooit n wenner in oorlog nie. My innige simpatie aan sy familie, Kollegas en vriende

Martie Smartie ·

Amptenare in Gaza kan mens netso min glo as vir Hamas. Ek hoop die hele wereld sien nou watter gemors Hamas met hulle koelbloedige moordtogte op 7 Okt veroorsaak het. Baie goeie mense sterf nou ook. Hamas moes geweet het wat gaan kom, Israel slaan altyd 1000x harder terug as wat hy geslaan word. Hamas weet dit tog.

Bolandse Nooi ·

“War ….. planned by politicians, fought by soldiers and suffered by humans”. Ek kan, vir een rede nie GLO dat ons wonderlike regering die kant van die Palestyne kies nie en hierdie konflik op dieselfde vlak as “apartheid” beskou nie. WIE het eerste op WIE geskiet? Israel op Hamas, of Hamas op Israel? WIE is in WIE se tradisionele woongebied, die Palestyne in Israel gebied of Israel in Palestina? Tensy ek nou die saak oor-vereenvoudig … As mens na die geskiedenis kyk, het Brittanje orals ‘n vinger in die pastei gesteek en orals ellende veroorsaak. In SA, was hulle agter die ou ZAR se goud en Kimberley se diamante aan, toe jaag hulle vroue, kinders en nie-vegtendes almal op ‘n knop in kampe in, waar ellende hoogty gevier het. In Indië het hulle besluit om die Noord-Indiese provinsies van die res van Indië af te sny om onafhanklike, nuwe state – Iran, Irak en Pakistan – te stig. Dan wonder die Britte nog waarom die wêreld hulle so haat? Israel/Palestina is ook ‘n direkte nagevolg van Brittanje se “baasskap” oor die wêreld ná die 2de Wêreldoorlog – dit was Brittanje wat hierdie een stuk land in twee laat verdeel het, om hul eie belang te dien.

Theo ·

“Israel se vergeldingsveldtog in Gaza duur voort.” Hoewel daar ‘n mate van vergeldingselement betrokke is (die Wet van Moses, die Torah, in die Ou Testament, vereis immers oog vir oog, tand vir tand), is hierdie in werklikheid ‘n eksistensiële oorlog wat Israel vir sy voortbestaan voer. Soos sedert WO II in elke oorlog wat Israel na sy totstandkoming as soewereine, internasionaal erkende staat teen ‘n oormag vyandige Moslemstate gevoer het. Die aanvalle is teen die terroristebeweging Hamas en nie teen die Palestynse bevolking nie gerig. Laasgenoemde is die slagoffers van Hamas se brutale, wrede, hardvogtige, lafhartige skuil agter die burgerlike bevolking. Die veldtog teen Hamas is nie in die eerste plek ‘n vergeldingsveldtog nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.