Kapenaars moet baadjies, reënjasse byderhand hou

Argieffoto (Foto: wal_172619/Pixabay)

ʼn Goed-ontwikkelde, vinnigbewegende kouefront sal môre oor die Wes-Kaap aankom en baie koue en nat weer na al drie Kaapse provinsies bring.

Daarbenewens word sterk, stormagtige westelike winde oor die binneland van die Wes-Kaap en Oos-Kaap saam met die kouefront verwag. Gegewe die dramatiese afname in die temperatuur, tesame met volgehoue nat en winderige toestande in die komende dae, word kleinveeboere sterk aangemoedig om vroeg reeds maatreëls te tref om veeverliese weens blootstelling te voorkom.

Die aankoms van die kouefrontstelsel môre sal boonop die eerste in ʼn rits soortgelyke stelsels wees wat na verwagting die komende week amper daagliks deur die Kaapse provinsies sal trek. Koue, winderige toestande met reënbuie word oor die suidelike helfte van die land verwag en sal na verwagting tot ver ná die langnaweek voortduur.

Die jongste uitsette van die Numeric Weather Prediction (NWP)-modelle, veral die Unified Model (UM) (sien Figuur 1 hieronder), dui daarop dat swaar reënval Woensdag (14 Junie) oor dele van die Wes-Kaap kan voorkom en sal voortduur tot Donderdag (15 Junie).

Tipies neig die teenwoordigheid van hoër topografie en veral bergagtige gebiede daartoe om plaaslike reënval merkbaar te versterk deur orografiese opheffing. Die westelike, of windwaartse, kant van heuwels en berge in die Wes- en Noord-Kaap kan daarom na verwagting Woensdag meer as 100 mm reënval ontvang, met verdere beduidende reënval van ongeveer 50 mm of meer wat tot Donderdag voortduur.

Hierdie NWP-voorspellings het die SA Weerdiens aangespoor om ʼn Vlak 6 oranje-waarskuwing uit te reik vir ontwrigtende reënval, wat na verwagting veral die Kaapstadse middestad en metropool sowel as die Wynlandstreek sal beïnvloed (sien bykomende besonderhede hieronder).

Sterk, stormagtige winde (moontlik vlakke wat stormsterktekrag oorskry) word Woensdag en Donderdag oor groot dele van die binneland van die Wes-Kaap en Oos-Kaap verwag. Hoë voertuie wat op groot paaie en snelweë reis, kan moontlik deur ʼn sywind getref word. Bestuurders van sulke voertuie word aangemoedig om spoed te verminder en waaksaam te wees in die verband.

Numeries gemodelleerde 24 uur-reënval in mm, gebaseer op die Unified Model (UM), geldig vir Woensdag 14 Junie en Donderdag 15 Junie (links en regs onderskeidelik) (Bron: SAWS)

Sterk tot stormagtige wind word Woensdag en Donderdag langs die Wes-Kaapse kus tussen Saldanhabaai en Plettenbergbaai verwag, tesame met baie rowwe seetoestande van 4,5 m tot 5 m, wat navigasie op see sal bemoeilik en probleme vir klein seevaartuie kan inhou.

Die volgende impakgebaseerde weerwaarskuwings is uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS):

  • ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir ontwrigtende reën wat kan lei tot oorstromings van paaie en nedersettings word Woensdag en Donderdag verwag oor die suidelike Weskus, suidoostelike Kaapse Wynlande en westelike Overberg-distrikte. Die weerstoestande kan ʼn impak hê op padgebruikers en motorvoertuigongelukke kan as gevolg van gladde paaie voorkom.
  • ʼn Oranje vlak 6-waarskuwing vir ontwrigtende reën wat kan lei tot ernstige ontwrigting van verkeersvloei word Woensdag en Donderdag verwag in Kaapstad en die grootste dele van die Kaapse Wynlande. Dit kan moontlik lei tot paaie wat oorstroom met skade aan eiendom en infrastruktuur.
  • ʼn Geel vlak 1-waarskuwing vir verwoestende wind wat skade aan eiendom kan veroorsaak, verkeer kan ontwrig en plaaslike onderbrekings in krag en kommunikasie kan veroorsaak, word verwag oor Joe Gqabi DM, Chris Hani DM, Sarah Baartman DM, Ngqushwa LM, Raymond Mhlaba LM, Nelson Mandelabaai, sowel as die kus tussen Oesterbaai en Keimond.
  • ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir verwoestende golwe word ook verwag aan die kus tussen Plettenbergbaai en Mazeppabaai met ontwrigting vir hawens indien vaartuie sou omslaan.

Lede van die publiek word aangemoedig om gereeld die weervoorspelling te volg op die televisie, radio en sosiale media. Die jongste inligting word gedeel op weathersa.co.za en die SAWS se Twitter-profiel @SAWeatherServic.

– Saamgestel deur Kevin Rae, Stella Nake en Ayabonga Tshungwana van die SA Weerdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Ons hier in Pretoria vrek al van die koue. Die Kaap moet maar sy nat en koue vir homself hou. Daarom is daar geen geen, maar geen manier dat ek ooit daar ssl gaan bly nie. Dis mooi, maar dit is ook maar al.

Colombo ·

Ons wil nie negatiewe persone in die Wes-Kaap ontvang nie.Bly waar jy is.

sterk soos n beer ·

baie goeie nuus. het die reen baie nodig. dankbaar daarvoor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.