Kaptein skuldig bevind aan verkragting van kollega

tronk, sel, seldeure, gevangenis, misdaad, hof, aanhoudingselle

Foto ter illustrasie. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

ʼn Vrouekaptein in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is skuldig bevind nadat sy ʼn voormalige vriendin, ’n luitenant in die weermag, ná ’n aand se gekuier in die barakke verkrag het.

Kapt. Sandisiwe Nongonwana het Vrydag in trane uitgebars toe sy in die landdroshof in Pretoria skuldig bevind is.

Nongonwana, wat vir die duur van die verhoor op waarskuwing uit is, is Vrydag in aanhouding geplaas tot en met haar vonnisoplegging in April.

Die staat het die aansoek gebring om die klaer te beskerm omdat sy en Nongonwana nog in dieselfde afdeling in die weermag werk.

Maroela Media het vroeër berig oor die grafiese besonderhede wat in die hof geopper is oor die luitenant se verkragting. Die luitenant het getuig sy en Nongonwana het saam met ʼn groep weermagvriende op Vrydag 12 Maart 2021 by die barakke, en later op ander plekke, gekuier. Later die aand is hulle terug na die barakke en die klaer het in Nongonwana se kamer oornag.

Albei het die betrokke aand alkohol gebruik. Later het Nongonwana die klaer help uittrek sodat sy in haar kamer kon oorslaap. Die luitenant het in die nag wakker geword van Nongonwana wat haar met ʼn vibrator verkrag.

Die klaer het getuig sy het nié hiertoe ingestem nie en sy is terug na haar eie kamer. Sy het die volgende dag vir haar kêrel vertel wat gebeur het en ook ʼn WhatsApp-boodskap aan Nongonwana gestuur waarin sy by haar wou weet “hoekom jy dit verlede nag aan my gedoen het”.

Hierna het die luitenant die vriendskap beëindig.

Landdros Kallie Bosch het in sy uitspraak bevind die klaer was ʼn geloofwaardige getuie en dat sy in geen stadium ingewillig het en haar toestemming aan Nongonwana gegee het nie.

Nongonwana het skuld ontken en in haar verweer getuig sy het die seksuele dade met toestemming uitgevoer.

“Die klaer het ʼn goeie indruk gemaak op die hof. Daar is geen rede hoekom sy die beskuldigde valslik sou beskuldig nie. Sy het die voorval die volgende oggend by haar kêrel aangemeld,” het Bosch gesê.

Hy het verder bevind dit was gemenesaak dat albei onder die invloed van alkohol was, en dat die klaer juis hierom nie haar wettiglike toestemming kon gee nie.

“Daarom word die beskuldigde se weergawe verwerp,” was Bosch se bevinding.

Hy het ook verder bevind dat die staat sy saak bo alle redelike twyfel bewys het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Vettiemaragartos ·

Oneervolle ontslag uit die weermag dink ek sal hier van pas wees.

Karoo ·

Nie aldag dat so iets in die hof kom nie. Dit was baie braaf van die dame om navore te kom en haar saak te stel.

Casper ·

Sy is klaar skuldig bevind,sy is inhegtenis geplaas daarom kan ek nie die nut sien om haar langer indiens te hou nie,en boonop gaan sy moontlik gevangenisstraf opgelê word.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Militêre hof moes eerder hierdie saak hanteer het.

Niklaas ·

Daars geen verskoning vir haar gedrag nie . Een geskrewe waarskuwing is egter al straf wat ek verwag sy sal kry. Of dalks net ‘n opgeskorte vonnis met waarskuwing.

Sê maar net ·

Verkragting moet tronkstraf opgelê word. Maak geen verskil of dit deur ‘n man of vrou gedoen word nie. Daai arme slagoffer! Baie sterkte!

Shakespeare ·

Nogal ‘n medêm “Kaptein”. As ‘n Kaptein se gedrag so verfoeilik is verstaan ek hoekom die meeste troepe so “good for nothing” is.

Nici ·

Dis seker weer herdefinieerding in die wetboek van wat verkragting is. Dit doen afbreek aan wat regte verkragtingslagoffers deurgaan. Hierdie was seksuele aanranding met ‘n voorwerp, om akkuraat te wees.

Leona ·

Welgedaan Luitenant! Ek het respek vir jou dat jy so moed aan die dag lê, en navore gekom het. Sterkte met die herstel proses.

christo ·

Daar is reëls in al die lande se weermagte asook die SANW wat sosialisering met hoër range verbied.Die rede is dat dit dissipline ondermyn. Dis nogal ‘n skande dat offisiere en veral vrouens hulleself buite die normale gebiede soos die offisiersmenasie, waar daar gewoonlik ‘n kroeg is drank mag gebruik. Die feit dat beide daarna verder ‘gekuier’ het by die barakke is ‘n militêre oortreding. Beide moes reeds in ‘n militêre hof verhoor en gestraf gewees het bo en behalwe die siviele hof. Die militêre polisie en die bevelvoerder(s) is ook skuldig aan pligsversuim. Na my mening moes beide reeds ontslaan gewees het uit die SANW. Dis net nog ‘n voorbeeld van morele verval in die SANW.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.