Katlego Maboe: ‘Ek voel weer tuis’

Katlego Maboe het Maandagoggend weer sy aanbiederspos op ‘The Morning Expresso Show’ hervat. (Foto: Facebook/Katlego Maboe)

“Dit voel vreemd. Dit voel goed. Dit voel asof ek tuisgekom het – net na ʼn tuiste wat ek lanklaas gesien het.”

Só sê die aanbieder en akteur Katlego Maboe nadat hy Maandagoggend weer sy aanbiederspos op die stel van The Expresso Morning Show hervat het.

Aantygings van huishoudelike geweld teen hom het Maboe (34) in 2020 gedwing om vir eers die pos te ontruim. Verskeie OUTsurance-advertensies waarin hy verskyn het, is ook gestaak.

Ná ’n uitgerekte regsproses is Maboe in Januarie vanjaar vrygespreek van die klagte teen hom.

Maboe het Maandag in ʼn onderhoud met mede-aanbieder Graeme Richards gesels oor die uitdagings wat hom die afgelope twee jaar in die gesig gestaar het. Hy het ook sy opgewondenheid om terug te wees op die stel van The Expresso Morning Show gedeel.

“Soveel dinge het verander. Ek het nie geweet dit is hoe dit gaan voel [om terug te wees nie], maar die kombuis ruik nog steeds baie lekker!” het Maboe gesê.

Hy het ook vertel dat hy as mens verander het.

“Dit maak nie saak wat oor die afgelope twee jaar met my gebeur het nie – ek wil nooit my begeerte om ʼn positiewe invloed op mense te hê verloor nie. Daar was baie oomblikke waar ek my identiteit bevraagteken het, maar ek het daardeur gewerk met die ondersteuning van vriende, familie en die mense wat my deurentyd op sosiale media met bemoedigende boodskappe bygestaan het.”

Katlego Maboe. (Foto: Facebook/Katlego Maboe)

Hy gee toe dat hy destyds geen idee gehad het hoe die aantygings teen hom sy lewe sou verander nie.

“Al wat ek kon doen was om ʼn tree terug te gee en na die stukke rondom my te kyk en daaroor te rou. Want ek het. Ek moes rou. Dit was soos ʼn sterfte, maar op ʼn sekere punt kan jy sit en rou tot jy nie meer weet hoe om jouself weer op te tel nie, of jy kan besluit om elke dag die keuse te maak om op te staan.”

Volgens Maboe het sy vierjarige seuntjie, Phoenix, ʼn groot rol in sy genesingsproses gespeel.

“Ek sou na hom kyk en die manier hoe hy opkyk na my en my namaak, en dit het my laat besef dat ek stabiliteit en aanvaarding in myself moet vind sodat hy ook soos hy grootword aanvaarding in homself kan vind.”

Hy erken dit was ʼn “baie donker tyd” toe die storm net om sy kop losgebars het. “Alles waaraan ek vir byna 15 jaar gewerk het, het binne ʼn enkele oomblik onbestendig geraak. Daar was ʼn oomblik waar ek gedink het ek moet eerder opgee. My familie sou nie oor my bekommerd hoef te wees of elke dag seker te maak ek is oukei nie.

“Maar, my rede vir alles moes van êrens af kom en vir my was dit Phoenix.”

Maboe sê hy het deesdae ʼn nuwe benadering in sy verhouding met sy seun.

“Ek kon twee en ʼn half jaar se gehaltetyd saam met my seun deurbring en ek sal dit vir niks verruil nie. Geen hoeveelheid geld of ʼn droom of ambisie of prestasie kan dit ooit vervang nie.”

Intussen koester hy egter steeds die droom om diep spore in die plaaslike uitsaaiwese te trap en is hy opgewonde om weer terug op die kassie te wees.

“Ek het my aanhangers gemis. Ek wil graag elke mens wat vir my gebid het vir hierdie oomblik om waar te word, uit die diepte van my hart bedank. Ek kan nie beskryf hoeveel dit vir my beteken nie.”

The Expresso Morning Show is elke weeksdag om 06:00 tot 09:00 op SABC 3 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Ek hoop die gene wat die valse klagtes gelê het ry aan die pen. Waarom moet mense se lewens verwoes word as ander nie tevrede is met die persoon nie. Vat jou goed en gee pad, hou net op om kwaad met kwaad te vergeld en lewens te verwoes!

Renier ·

Onthou net vrygespreek in ons regs stelsel beteken nie onskuldig nie.

Samuel ·

Ek is baie bly dat Katlego terug is op die kassie. Ek wens hom alle voorspoed toe.

Piet Snot ·

Nee Renier, die regspraak is baie duidelik: vryspraak = onskuldig. Ou geykte reg.
Skandalig dat ʼn vrou effektief geslagsgebaseerde geweld teen ʼn man kan pleeg deur ʼn eenvoudige bewering, wat die hof nou bevind het vals is. Enigeen wat ernstig is oor geslagsgebaseerde geweld behoort hierdie onreg ernstig op te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.