Kees loop lig vir dié verskrikker se loop

Die bobbejaan-en-roofdierverskrikker genaamd Jan Gun. (Foto: Verskaf)

Dit is alombekend dat bobbejaan se kind groot skade aan groentetuine en vrugteboorde aanrig. Menige sekelstert loop egter nou lig vir die meganiese bobbejaan-en-roofdierverskrikker genaamd Jan Gun wat al skellende en skietende waghou.

Met ’n Jan Gun is dit kompleet asof die boer dag en nag waghou teen bobbejane en ander roofdiere.

“Ek is Jan Gun. Die man wat kan. Die man met ’n plan. Voertseeeek bobbejaan, vandag stuur ek jou bokveld toe!” is maar net een van dié mannekyn se kostelike sêgoed waarmee hy bobbejane verjaag.

Ja, bobbejaan se kind se kans is só klein as wat Jan se “kamma” geweer groot is.

Ernst van Zyl, ’n skaapboer van Vredendal, vertel aan Maroela Media hy het aan die idee van Jan Gun gekom nadat bobbejane gedurende die droogte lammers op sy plaas in die omgewing van Calvinia in die Roggeveld-berge begin vang het.

Van Zyl het besef dat hy nie altyd self in die veld kon wagstaan en skote afvuur om die bobbejane op sy plaas te verjaag nie. Dit help ook natuurlik nie om die bobbejane sonder ’n vuurwapen in die hand te verjaag nie aangesien bobbejaan se kind nié skrik vir ’n boer met leë hande nie.

“Ek het net gedink hoe kan ek maak? Wat sal ek in my plek laat staan? Dit moet genuine nes ek lyk. Ek het besef ek sal moet meer moeite doen as ’n besemstok en ’n jas.”

Die bobbejaan-en-roofdierverskrikker genaamd Jan Gun. (Foto: Verskaf)

Só is daar lewe in Jan Gun geblaas. “Dis maar ’n metode uit nood gebore,” vertel Van Zyl.

Die beeldhouer Pieter du Plessis het toe die eerste van baie Janne uit glasvesel gemaak. Van Zyl se stem is vooraf opgeneem om Jan te laat praat deur middel van groot luidsprekers. Die mannekyn het sedertdien al ’n rits pittige sêgoed waarmee hy sekelsterte verjaag en kan selfs kla oor die droogte.

Jan Gun is 1,8 m lank sonder die voetstuk waarop hy gemonteer is. Die mannekyn maak gereeld ’n draaibeweging en die frekwensie van beweging is verstelbaar. Sy klank is ook verstelbaar. Dié bobbejaan-en-roofdierverskrikker kan volgens verstellings net bedags of snags óf albei paraat wees teen sekelsterte.

Jan Gun se voetstuk met sy elektronika. (Foto: Verskaf)

Jan Gun se naam is geïnspireer deur ’n werklike Karoo-boer wat altyd met sy vuurwapen aan sy sy rondloop, en kom ook met ’n kamma geweer wat “skiet” deur middel van ’n kragtige klankversterker en twee 500 W-Marine-luidsprekers. Die geweer het boonop ’n skietlamp wat byna een km ver skyn en roofdiere afskrik.

Jan kan deur middel van verskillende verstellings van elke vyf tot elke tien minute skel, swaai en skiet.

“Dit is net so goed asof die boer self daar staan. Bobbejane ken nie die verskil nie,” sê Van Zyl. “En wanneer Jan Gun se posisie boonop van tyd tot tyd verander word of daar vir hom ander klere, ’n hoed of ’n sonbril aangetrek word, word Jan al meer lewendig.”

Van Zyl vertel dat hulle reeds baie pret met Jan gehad het toe ’n Jan Gun selfs plaaswerkers vir ʼn oomblik laat dink het dat hul werkgewer aan’t skiet is.

“Daar is al baie staaltjies oor Jan Gun,” bieg van Zyl.

Jan Gun kos sowat R28 000 en kom volledig toegerus met ʼn sonpaneel en ’n stel klere.

“Mense skrik vir die prys, maar Jan is ’n kosbare en duursame man. Sy lewensverwagting is 30 jaar en hy sal die job doen,” sê Van Zyl.

Klik hier vir meer inligting oor Jan Gun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Boerkind ·

Oulik… iets wat in die politiek ook aangewend kan word?

Cherokee ·

Dit word mos in politiek ook aangewend.
Die DA het as een van vele voorbeelde, nuttelose skote geskiet op Elana Barkhuizen in Schweizer-Reneke, en het gedink dit is egte ammunisie. Baie ander voorbeelde ook.

SomeOne ·

totdat kees slim raak en op jan gun se geweer of kop gaan sit en lekker rond-om-talie geniet

Ernst van Zyl ·

Vir meer as n jaar het dit nie gebeur, dieselfde trop kom nie terug. Hulle kan dalk tot by 3 tel, maar nie tot by 4 nie!

Kobus ·

Slim! En dít nou omdat die groenes sal bohaai opskop as die oormaat bobbejane en apies uitgeroei word.
Groot probleem orals in die land. Bemors woonhuise en rig baie skade aan. Wonder net wanneer die sonpanele, ens vasgelê gaan word…

Sakkie ·

Briljant !!!!!!
Ons KAN !!!! WANT ons het die brein om sulke Meester planne uit te dink.
Prys die Here !!!!!!!!!!!

capie ·

Tot mister hoed dit hoor. dan gaan hy en sy branderplankry squad in hul bussie klim en die lisensie vir die nagemaakte geweer soek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.