Kevin Hart laat binnekort SA gehore skater

Kevin Hart kom kuier binnkort in Suid-Afrika. (Foto: Roger Kisby/Getty Images North America/AFP)

Kevin Hart, die bekroonde Amerikaanse komediant en akteur, is eersdaags op eie bodem te sien.

Hart, bekend vir sy rolle in flieks soos Jumanji, Fatherhood en Central Intelligence, sal in Februarie volgende jaar by die Sunbet Arena Times Square in Menlyn, Pretoria, in die komedievertoning Reality Check te sien wees.

“Suid-Afrika, dit het nou te lank geword,” het Hart Maandagoggend in ’n Instagram-video gesê.

“Moenie ’n geleentheid misloop om in die arena te wees terwyl ek doen wat ek die beste doen nie.”

Hoewel Hart sy loopbaan in die vermaakbedryf op die verhoog afgeskop het, is hy vandag wêreldberoemd en in tientalle flieks en reekse te sien.

Hy het ook sy eie vervaardigingsmaatskappy, Hartbeat, in 2009 begin. Dié maatskappy is verantwoordelik vir rolprente soos Me Time, Man from Toronto en Jumanji.

Deur die jare heen het hy talle benoemings en toekennings vir sy werk as komediant en akteur ingeoes, wat onder meer die People’s Choice-toekenning vir die beste verhoogkomedie in 2018 insluit.

Die akteur, wat voorheen ’n bloutjie met sosiale media geloop het toe ou Twitter-inskrywings waarin hy homofobiese aanmerkings maak die lig gesien het, is ook streng oor die gebruik van selfone tydens sy vertoning.

Die gebruik van enige tegnologiese toestelle sal nie deur die loop van die vertoning toegelaat word nie. Met aankoms by die venue, sal alle fone, slimhorlosies en ander bykomstighede in spesiale Yondr-sakkies gebêre word wat aan die einde van die aand weer oopgesluit sal word.

Gaste sal dié sakkies by hulle kan hou, maar sal nie toegang tot hul toestelle hê nie. Gebruik van fone sal net in spesifieke gebiede toegelaat word indien daar ’n noodgeval is. Enigiemand wat tydens die vertoning met ’n toestel betrap word, sal by die venue uit begelei word.

  • Kevin Hart se Reality Check-komedietoer kom draai op 17 Februarie in Pretoria, Suid-Afrika. Kaartjies is van 09:00 op Vrydag 2 Desember op Ticketmaster Vooraf-verkope word deur Discory op Ticketmaster van Woensdag 30 November om 09:00 beskikbaar gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Aai ·

Rerig dit is vernuut op tv kanaal elke week parlement sitting.

Nie Verbaas ·

Hy het nie nodig om te kom nie. Ons president en sy ministers laat ons daagliks skater.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.