KFC sluit takke oor beurtkrag

Foto bloot ter illustrasie van KFC. (Foto: KFC/Facebook)

Sowat 200 dae van beurtkrag in 2022 het KFC genoop om van sy takke tydelik te sluit. Sommige takke sal ook voortaan sekere disse op sy spyskaart in beperkte hoeveelhede beskikbaar hê.

Die wegneemete-reus het vandeesweek op sosiale media verduidelik dat die voortslepende kragonderbrekings die beskikbaarheid van bestanddele belemmer wat nodig is om sekere disse op sy spyskaart voor te berei.

“Ons vra om verskoning vir die ongerief en sal binnekort terug wees.”

Dit is nie in die stadium duidelik watter takke vir eers hul deure gaan sluit nie.

Sommige sosialemediagebruikers het in reaksie op die aankondiging vertel dat hul naaste tak nie meer hoenderborsies beskikbaar het nie. Ander het weer vertel dat daar aan hulle gesê is dat daar nie enige minibroodrolletjies beskikbaar was nie.

Party sosialemediagebruikers het voorgestel dat die kitskosgroep bloot kragopwekkers aanskaf.

“Soms is dinge buite ons beheer. Die huidige beperkings is te wyte aan beurtkrag wat van ons verskaffers beïnvloed. Baie van ons restaurante het kragopwekkers om te verseker dat ons geredelik beskikbaar is,” het KFC op van die kommentaar geantwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.