KI-tegnologie help renosters beveilig

Foto ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Renosters by die Addo Nasionale Olifantpark is nou veiliger danksy kunsmatige intelligensie (KI) wat dié diere se gedrag monitor. Die gebruik van die KI-bande word as baanbrekerswerk bestempel in die voortdurende stryd om renosters te beskerm.

JP Louw, woordvoerder by SANParke, verduidelik dat slim halsbande ʼn renoster se gedrag deur middel van algoritmes monitor en in noodgevalle ʼn kennisgewing met die dier se ligging genereer.

Dít maak doeltreffende, intydse ondersoeke en reaksie op moontlike stropingsaanvalle moontlik.

Ingang tot die Addo-olifantpark. (Foto: Tracks4Afrika)

Die soort gedrag wat deur algoritmes gemonitor word, sluit in gevegte, paring, renosters wat kalf en vrektes.

Volgens Louw het die park tans 31 slim halsbande wat deur verskeie aandeelhouers geskenk is.

Hy sê sonder die volgehoue ondersteuning van Addo se bewaringsinisiatiewe sal dit nie moontlik wees om hierdie bedreigde spesie te beskerm nie.

Skenkers sluit welwillendheidsorganisasies soos Stop Rhino Poaching, Animal Survival International (die Brody Hunter-stigting), Dancing for Rhinos en ander organisasies soos Tocoforce en Rouxcell Technology in.

Die park is sowat 30 km buite Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) in die Oos-Kaap geleë, en huisves die Groot Vyf in ʼn gebied wat oor 180 000 ha strek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pawiljoen Rot ·

My beste vriend is oorlede in daai park nadat 3x leeus hom aangeval en verskeur het terug in 2010.

Pampoen ·

Kunsmatige Intelligensie klink goed, maar dit is n foefie van oningeligtes. Die monitor van die renosters word gedoen met n mikroprosesser, program en sender. Intelligensie is die vermoë om iets wat jy nog nooit tevore teegekom het te evalueer en besluite te neem. Die apparaat aan die renoster kan niks doen wat die programmeerder nie ingesit het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.