Die polisie in Kimberley is dringend op soek na vier mans wat betrokke was by drie afsonderlike verkragtingsvoorvalle in dié Noord-Kaapse dorp die afgelope paar maande.
Lt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is al maande op die verdagtes se spoor, maar niemand is tot dusver vasgetrek nie.
In die mees onlangse voorval is ʼn 13-jarige meisie op 17 Maart op pad skool toe deur ʼn man gegryp en na ʼn veld gesleep waar hy haar verkrag het. Die verdagte is swart, tussen die ouderdom van 25 en 27 en ongeveer 1,8 meter lank. Hy het ʼn roomkleurige broek en geel T-hemp aangehad ten tyde van die voorval.
Op 14 Februarie is ʼn 18-jarige vrou in New Park na bewering verkrag terwyl sy na ʼn plaaslike winkelsentrum gestap het. ʼn Man in ʼn donkerblou VW Polo het haar ʼn saamrygeleentheid aangebied en toe sy in die motor klim het hy met haar weggejaag. Hy het haar gesig glo met ʼn swart lap bedek voordat hy haar verkrag het. Die verdagte is wit met ʼn baard en het ʼn bruin broek en wit T-hemp met geel kolle aangehad ten tyde van die voorval.
In September is ʼn 17-jarige meisie na bewering om die beurt deur twee mans in die Weseinde-begraafplaas verkrag toe sy haar ma se graf besoek het. Albei verdagtes was swart mans en een het ʼn tatoeëermerk van ʼn leeu op sy linkerarm gehad. Een verdagte het ʼn wit T-hemp en pienk broek gedra, terwyl die ander in ʼn rooi T-hemp en bruin broek geklee was.
Die polisie het ʼn beroep om die publiek gedoen om sers. Antonie by 082 3020 468 te skakel indien enigiemand inligting oor die bogenoemde gevalle het.
ʼn Identikit van die vierde verdagte is nie uitgereik nie.
Scar face