Klag oor kaping, ontvoering was glo ʼn leuen

(Argieffoto: Maroela Media)

Die polisie in die Wes-Kaap het ʼn waarskuwing vir die publiek uitgereik om nie vals klagtes aanhangig te maak nie, omdat dit op ʼn misdaad neerkom.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê ʼn saak van kaping, ontvoering en diefstal is op 1 April 2022 by die Pinelands-polisiestasie aanhangig gemaak. Die saak is van die Stellenbosch-polisiestasie oorgedra.

“Die klaer het gesê dat sy motor op 29 Maart 2022 omstreeks 08:15 op die afrit by Jakes Gerwelrylaan in Epping I onklaar geraak het. Hy het aangevoer hy is deur drie mans oorval terwyl hy ondersoek ingestel het. Hy is aangerand en in die kattebak van sy motor geboender. Hulle het weggery met hom steeds in die kattebak.”

Die man het later opgemerk dat die motor nie meer beweeg nie. “Hy het om hulp geroep en ʼn onbekende man het die kattebak oopgemaak. Die man het toe glo ontdek hy is in Kayamandi, Stellenbosch.”

Hy het die motor nagegaan en ontdek dat die verdagtes sy beursie, rybewys, spaarwiel van die motor en twee skootrekenaars gesteel het. “Hy het na die Stellenbosch-polisiestasie gery om ʼn saak aanhangig te maak.”

Die saak is na Pinelands oorgeplaas en speurders het ondersoek ingestel. “Deur ʼn deeglike ondersoek is daar bevind dat die man oor die voorval gejok het. Hy het valslik ʼn saak aanhangig gemaak.”

Die man is op 8 April 2022 in hegtenis geneem op aanklag van dwarsboming van die gereg en het Woensdag vir die eerste keer in die hof verskyn.

Van Wyk sê alle voorvalle wat aangemeld word sal deeglik ondersoek word, en vals klagtes sal in dié proses opgespoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

maruis ·

Ja, so kom die waarheid altyd uit – hoop hy word ‘n les geleer.

ES ·

Hoekom maak mense sulke dinge op? Goeie speurwerk deur die polisie.

Kobus ·

Is hy dom of is hy dom? Hy is in die kattebak toegesluit maar ontdek later dat die noodwiek weg is? Lekker lag ek nou

Jaco ·

Wat van, die SAPD is te lui, onbevoeg en swak opgelei dat hulle weet hoe om so ‘n kapingsaak te ondersoek. Die slagoffer van die kaping is seker ook wit, so dan is ‘n ondersoek na die kaping ook nie “polities-korrek” nie.

Perdeby ·

Ek wonder as dit die dag regtig met hom gebeur, wat sal hy maak, en hoe sal hy voel daaroor. Jy is siek verby!!!!!!!1

Patch ·

Waarom sal iemand oor so iets lieg? Ek dink nie hy weet regtig watse trauma saam so gebeurtenis gaan nie en vir hom was dit ‘n grap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.