Klagtes teen De Lille oor riool in Odendaalsrus

Patricia de Lille. (Foto: Maroela Media)

Die Demokratiese Alliansie het Vrydag strafregtelike aanklagte aanhangig gemaak teen die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, asook haar departement se waarnemende direkteur-generaal dr. Alec Moremi.

Die minister het in antwoord op ʼn parlementêre vraag die versuim van haar departement erken om betyds ʼn rioolpomp by die Odendaalsrus- korrektiewe sentrum te herstel en dat dit op ʼn misdaad neerkom kragtens artikel 151 van die Nasionale Waterwet.

“Dit het veroorsaak dat die riool soms in die fasiliteit teruggevloei het en het menseregteskendings tot gevolg gehad. Dit het ook langdurige omgewingskade aangerig vir die omliggende gebiede en die varswaterstrome besoedel,” sê George Michalakis, die DA se woordvoerder oor veiligheid en justisie in die nasionale raad van provinsies.

Hy sê deur De Lille skriftelike reaksie is dit duidelik dat sy eerstehandse kennis gedra het van die situasie.

“Die DA het die perseel op 28 Augustus besoek en weer op 18 November 2022 en bevind dat nie enige van die regstellende stappe wat sy in haar reaksie onderneem het, uitgevoer is nie. Indien daar vroeër en beslissend opgetree is, kon die omvang van die kriminele daad beperk word.”

Die DA sal die saak bly monitor. “Die minister en haar departement moet dringend seker maak dat die gemors skoongemaak word. Dit is hul werk. Enige optrede kan hulle egter nie kwytskeld dat ʼn kriminele misdaad gepleeg is nie.”

Igor Scheurkogel, leier van die DA- Matjhabeng-koukus, het in Augustus 2022 onthul dat verhoorafwagtendes nie in die selle aangehou kan word nie, as gevolg van riool- en waterlekkasies. Die riool het ʼn gevaar ingehou vir aangehoudenes en het vervolging vertraag.

Werknemers van die departement van justisie het die kwessie aangeroer met senior provinsiale beamptes, maar geen reaksie ontvang nie, het Scheurkogel destyds gesê. “Die gebou is deur die departement van gesondheid gesluit voor dit weer oopgemaak is sonder dat enige herstelwerk gedoen is. Die polisiekantoor wat gebruik is om die aangehoudenes te bestuur kan ook nie gebruik word nie, omdat dit toe is onder rou riool.”

Scheurkogel het gesê die landdroshof word daagliks deur bejaardes, ma’s met kinders en ander kwesbare groepe gebruik. “Die huidige stand van die Odendaalsrus-landdroshof is ʼn skending van menseregte en ʼn bewys van die mislukking van die Vrystaatse provinsiale regering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pietertjie ·

De Lille en kie hoort in die tronk. Dieselfde een wat vol riool is.

Nie Verbaas ·

En dink die DA dat iets met hopeloos de Lille sal gebeur?

Danie ·

Nog n spookdorp.Niemand kan kla oor dienste want daar is geen dienste.Die klagtes sal niks van kom nie.Wat het van al die hope klagtes in virginia en welkom geword.NIKS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.