Klagtes teen Fochville-verdagte teruggetrek

Cecilia Storbeck Donderdag by die hof (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die klagtes teen een van die verdagtes in die moordsaak van Natasha Wheeler Barnard (33) is in die streekhof op Fochville, Gauteng, teruggetrek.

Cecilia Storbeck (23) het Donderdag vlugtig in die hof verskyn waar die aanklagte van dwarsboming van die gereg en dat sy voordeel uit die moord getrek het, teen haar teruggetrek is.

Dit het tydens ʼn vorige hofverskyning in November aan die lig gekom dat Storbeck ʼn staatsgetuie wil word en dat sy ʼn beëdigde verklaring ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet gaan aflê.

Dit is egter nie Donderdag in die hof duidelik gemaak of Storbeck nou wel as staatsgetuie teen die ander beskuldigdes gaan getuig nie. Die staatsaanklaer wou ook nie na die afloop van Storbeck se hofverskyning aan Maroela Media kommentaar daaroor lewer nie.

Die ander beskuldigdes in die saak, Maryna Doyle (37), haar kêrel, Sidney Scheepers (41), Twane Wienand (31), Rudolf Pretorius (23) en Dave Lourens (45), sal na verwagting weer op 21 Februarie in die hof verskyn.

Die beskuldigdes Maandag by die landdroshof in Fochville. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die vyf is in April op borgtog vrygelaat en het sedertdien enkele kere weer in die hof verskyn.

Barnard is na bewering op 3 Maart in The Boulevard-restaurant en -kroeg in Fochville aangerand en vroeg die volgende oggend by haar ma, Frieda Venter, se huis afgelaai, waar paramedici haar later dood verklaar het.

Barnard en haar twee minderjarige kinders het ten tyde van haar dood by Venter gewoon.

Natasha Wheeler Barnard. (Foto: Verskaf)

Die ondersoekbeampte, AO Kitty Fourie, het vroeër in die hof getuig dat Barnard trauma aan haar kop, nek en ruggraat gehad het.

Doyle, Pretorius en Wienand word van die moord op Barnard aangekla, terwyl Storbeck, Scheepers en Lourens van dwarsboming van die gereg aangekla word omdat hulle glo gehelp het om Barnard se liggaam ná die aanranding van die kroeg (die beweerde misdaadtoneel) te verwyder.

Kringtelevisiemateriaal van die voorval by die kroeg sou Donderdag aan die beskuldigdes se regsverteenwoordigers verskaf word, soos in November in die hof bespreek is. Die regsverteenwoordigers het beswaar daarteen gemaak dat die beeldmateriaal van hulle weerhou word.

Dit is ook steeds onduidelik of die beeldmateriaal nou wel aan die regsverteenwoordigers oorhandig is.

Barnard se ma, Frieda Venter, en suster, Chantell Wheeler (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Volgens Venter en Barnard se suster, Chantell Wheeler, sal die beeldmateriaal ʼn kernrol in die hofsaak speel omdat dit al die gebeure van die aand en oggend in die kroeg vasvang.

Wheeler het vroeër aan Maroela Media vertel Barnard het die aand van 3 Maart saam met vriende, haar broer en dié se vrou na The Boulevard gegaan. Sy het alleen daarheen gery en het die ander daar ontmoet. Barnard se broer en sy vrou is net ná 23:00 huis toe.

Fourie sê volgens die videomateriaal is dit duidelik dat daar ’n konfrontasie tussen Pretorius (die kroegbestuurder) en Barnard ontstaan het. In die video kan gesien word hoe Pretorius en Barnard mekaar met water, glase en ander voorwerpe gooi, het Fourie getuig.

Volgens Fourie wys die video ook dat Barnard toe die kroeg wou verlaat. Sy het na die deur gestap, waarna Pretorius haar van agter met ’n stoel en kussing gegooi het. Sy het teruggedraai om weer in te gaan, maar Doyle en Wienand het na die deur beweeg en Barnard gekeer. Hulle het haar na buite gestamp.

Volgens Fourie is Pretorius na die kantoor waar hy die videokameras afgeskakel het. Hy is daarna terug na die plek waar die stampery met Barnard aan die gang was.

“Hy het aan Doyle gesê ‘jy kan maar voortgaan met die aanranding, want die videokameras is afgeskakel’,” het Fourie aangevoer.

Fourie het getuig die kameras is na ongeveer 11 minute weer aangeskakel. Barnard het toe op die grond in die parkeerterrein gelê.

Venter glo vas Barnard was reeds dood toe sy die aand by haar huis afgelaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

kristi ·

Ouers het altyd gesê, die deler is so goed as die steler.
Noudat sy sien wat se nagevolge haar aksies saam sogenaamde vriende kan hê, wil sy teen hulle draai (terwyl sy op daardie oomblik self nekkie van die plekkie was) en staats getuie draai?! Shame on you, karma en n gewete is iets om te vrees!!

Frank John ·

Dit is skokwekkend om te dink dat so-genaamde beskaafde mense sulke goed aanvang. Met sulke kennisse het jy nie vyande nodig nie. Maar soos hulle sê: meng jou met die semels dan vreet die varke jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.