Klein Tazné se ‘moordenaar’ eindelik verhoor

Tazné van Wyk (8).

Moehydien Pangaker, die man wat weens die moord op Tazné van Wyk teregstaan, word ná verskeie vertragings eindelik verhoor. Die verhoor, wat aanvanklik in Mei verlede jaar sou plaasvind, volg nou meer as twee jaar nadat die agtjarige dogtertjie se liggaam in ’n stormwaterpyp buite Worcester gevind is.

Sy is verkrag en vermoor.

Pangaker staan tereg op minstens 27 aanklagte. Dít sluit in aanklagte van moord en verkragting wat Tazné betref, asook 11 ander aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, aanranding, lykskending en bloedskande.

Die verhoor sou aanvanklik Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad begin, maar is toe tot Woensdag uitgestel om Pangaker se nuwe prokureur tyd te gee om met sy kliënt te beraadslaag.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het vanoggend by navraag aan Maroela Media gesê die aanklagte is vanoggend aan Pangaker voorgelees.

Moehydien Pangaker (Foto verskaf)

“Tot dusver het hy onskuldig gepleit op al die aanklagte,” het Ntabazalila gesê.

Volgens Ntabazalila sal lede van die media en publiek slegs vir die eerste paar dae toegelaat word om die verhoor by te woon. Die res van die verhoor sal in camera aangehoor word weens die sensitiewe aard van die saak.

Sommige aanklagte van verkragting hou waarskynlik verband met misdrywe wat teenoor minderjariges gepleeg is.

Tazné se liggaam is op 19 Februarie 2020 gevind nadat sy op 7 Februarie 2020 weggeraak het toe sy na ’n winkel oorkant hulle huis in Clarestraat in Ravensmead gestap het.

Pangaker het ten tyde van haar verdwyning tydelik by sy niggie Abigail Adams gewoon, oorkant Tazné se ouerhuis. Die kafee waar Tazné die middag nog ’n ysie gekoop het, is reg langsaan die Adams-woning.

Die staat voer aan dat Pangaker vir Tazné na die treinstasie in Parow gelok het waarna hy haar na bewering na Worcester geneem het voordat hy haar verkrag en vermoor het.

Pangaker, ’n vorige oortreder, is in 2001 tronkstraf opgelê vir die moord op sy seun. Hy was ten tyde van Tazné se moord uit op parool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JM ·

Waarom parool toestaan aan so ‘n oortreder?! Ek kan dit nie verstaan nie.

Marius ·

Gevalle soos die moet die voor die deur van die anc gelê word. Hul dink dink mos moordenaars kan na 10 jaar of minder uitkom op parool. Eenkeer ‘n moordenaar altyd ‘n moordenaar.

KatjieDeKat ·

Hy was op parool uit vir die moord op sy eie seun? Nee o hemel die ding is n monster!

Toy ·

Uit op parool nogal en hy gaan doen so iets, gewoonte misdadiger.

Sarel ·

So leer hulle vertragingstaktiek…sodra dinge warm
Raak word hulle of siek of kry nuwe Regsverteenwoordiging…Die REGTE van die Misdadiger

Tanya ·

Nou as hy nou die doodstraf gekry het toe hy sy eie seun (ek meen regtig, jou eie vlees en bloed) vermoor het dan het ons nou nie die probleem gehad nie. Maar nou ja, die gemorste het mos meer regte as enige ander mens of kind!

Casper ·

Die doodstraf is kwansuis afgeskaf omdat elke mens die reg op lewe het maar wat van die slagoffers of is dit net van toepassing op moordenaars wat die reg op lewe het.Wat kon sy gedoen het om dit te verdien.

Niklaas ·

Slegter indiwidu as hierdie knaap kry mens nie maklik nie.

Yvonne ·

Die regering/ howe is te rugraatloos…sake word uit gestel tot vervelens toe

Samuel ·

Hoeveel jaar gaan dit nog neem om hierdie saak af te handel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.