Kleinhoewe-aanval: ‘Jesus staan langs sy bed en hy veg’

Braam Blignaut. Foto: Verskaf.

Braam Blignaut. Foto: Verskaf.

Braam Blignaut (35), wat verlam is nadat hy Vrydag in ʼn aanval op ʼn kleinhoewe drie keer ten aanskoue van sy kinders geskiet is, “veg baie hard en sy wil om te lewe is groot”.

Só het Gerda Steyn, Blignaut se ma, Woensdag aan Maroela Media gesê. Volgens Steyn het dit aanvanklik beter gegaan ná die aanval op ʼn kleinhoewe in die Buffelsfontein-gebied, maar hy is nou weer aan ʼn ventilator gekoppel. “Sy linkerlong is deur een van die koeëls deurboor en daar word vermoed dat hy nou ontsteking het.”

Steyn het gesê haar seun is in sy onderlyf verlam. “Die aanvallers het die senuwee in sy rug wat seine na die brein stuur, afgeskiet. Ons het gehoor van stamselbehandeling en ons hoop en bid dat dit dalk sal kan help. Ons weet God is met hom. Hy het onder andere sy vier seuntjies om voor te leef.”

Volgens Steyn gaan dit onder die omstandighede goed met haar skoondogter, Izulda, en vier kleinseuns, onderskeidelik twee, vier, sewe en tien jaar oud. “Klein Braampie het die ander dag sy pa by die hospitaal deur die ruit gesien. Hy was stukkend en het so erg gehuil. Hy is so lief vir sy pa.”

Volgens Steyn woon Izulda en die seuns intussen by haar of haar dogter. Steyn het gesê hulle hoop om haar seun na ʼn privaathospitaal oor te plaas sodra sy toestand nie meer kritiek is nie.

Blignaut is tans in die George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa en sy familie moet verder as 100 km reis om hom te besoek. “Hy ontvang baie goeie behandeling en hulle hanteer hom met soveel deernis.”

Maroela Media het vroeër berig dat Blignaut, ʼn voorman by die Tharisa-myn naby Mooinooi in Noordwes, nagskof gewerk het toe hy Vrydag in die vroeë oggendure ʼn boodskap van Izulda gekry het wat sê sy is bang, want die honde by hul huis blaf erg.

Twee verdagtes het Blignaut buite die huis ingewag en met sy aankoms ʼn vuurwapen op hom gerig. Blignaut is drie keer geskiet. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Se Maar Net ·

Baie sterkte vir die hele gesin, hoop dat hy volkome sal herstel? En die barbare wat dit aan hom en sy gesin gedoen het, hoop ek word gestraf.

anne ·

Hoop die skuldige barbare word aangekeer, was dit regtig nodig????? Baie sterkte aan die familie in die moeilike tyd.

Johannes Meintjes ·

Wat van die opsie tot volle onderlinge samewerking ter drasties verbeterde en baie meer effektiewe burgerlike beskerming in SA?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.