Kleinseun, oupa se dag eindig tragies ná skietvoorval

Nsinyane Qwabe is in sy motor oorval en geskiet (Foto: Rusa)

ʼn Doodnormale dag vir ʼn oupa en sy kleinseun het in ʼn nagmerrie ontaard toe ʼn verdagte die oupa in sy motor beroof en doodgeskiet het.

Volgens Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), is die 76-jarige Nsinyane Qwabe op die hoek van Trenance- en Cottonwood-rylaan in Verulam, in sy motor doodgeskiet net nadat hy sy kleinseun by ʼn snoepwinkel afgelaai het.

“Minute ná Qwabe sy 16-jarige kleinseun afgelaai het, het die tiener skote in die rigting waar sy oupa se motor was, gehoor. Hy het na die motor gehardloop en gesien sy oupa het in die motor inmekaargesak. Sy oupa se klere was deurdrenk van bloed,” bevestig Balram.

Rusa het oproepe oor die skietvoorval gekry en na die toneel gehaas [Foto: Verskaf]

“Die seun het sy oupa na die passasiersitplek oorgeskuif en agter die stuur geklim.”

Rusa het oproepe oor die skietvoorval gekry en na die toneel gehaas. Daar het hulle die seun en sy oupa in die motor aangetref.

“Rusa-beamptes het Qwabe op die toneel assesseer, maar hy het reeds aan sy beserings beswyk. Hy het vyf skietwonde opgedoen.”

Qwabe is van sy 9 mm-vuurwapen beroof.

“Volgens ooggetuies het ʼn man in ʼn blou T-hemp Qwabe se Toyota Corolla genader en op Qwabe begin losbrand. Hy het glo sy vuurwapen gegryp en daarna te voet gevlug.”

Rusa het ʼn helikopter in die lug opgestuur om die verdagte op te spoor, maar niemand is nog in verband met die skietvoorval in hegtenis geneem nie.

Maroela Media het navrae oor die voorval aan die polisie gerig en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JM ·

‘n Moordenaarsnes!! Wat gaan aan dat mense net wil moor en roof!? Hoog tyd dat moordenaars, rowers en verkragters voor ‘n vuurpeleton betaal want in hierdie land is geen vrees meer vir die gevolge van hul dade nie, omdat hulle met handskoene hanteer word.

Blomme ·

Ai tog!! Wat gaan aan met die mensdom? Dis so tragies.. Die trauma wat die kleinseun moes deurmaak! Tragies verby!

Jr ·

Vuurwapen wat gebruik was, was n ” wettige” wapen. Ja nee en ek’s president van Rusland

Boerkind ·

Tragies… Innige simpatie. Die land ly swaar onder die ANC bewind. Ongekende misdaad…

Casper ·

Wil daai fossiel ons nog verbied om ‘n vuurwapen te besit vir selfverdediging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.