Klerksdorp-pa steeds kritiek ná aanranding

Hilton Pretorius (Foto: Back A Buddy-veldtog)

Hilton Pretorius (32) wat byna ʼn week gelede beseer is in ʼn aanrandingsvoorval in Klerksdorp, Noordwes, se toestand is onveranderd.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê Pretorius is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

ʼn Vriendin van die familie het ook aan Maroela Media bevestig Pretorius se toestand is onveranderd. Hy bly onder verdowing.

Maroela Media het vroeër berig oor die voorval waartydens Pretorius en PW Roos (44) ernstige beserings opgedoen het. Die voorval het in die parkeerterrein van ʼn winkelsentrum in Doringkruin plaasgevind.

Wernich Botha (33), wat in verband met die voorval in hegtenis geneem is, is Donderdag in die landdroshof in Klerksdorp op borgtog van R2 000 vrygelaat. Hy staan tereg op aanklag van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

“Die saak is tot 19 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek,” het Myburgh vroeër bevestig.

Albei slagoffers is ná die voorval na ʼn plaaslike hospitaal geneem. Roos het ʼn skouerbesering en harsingskudding opgedoen. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan. Pretorius het ernstige breinskade opgedoen.

ʼn Back-a-Buddy-fondsinsamelingsinisiatief is vir Pretorius van stapel gestuur om sy mediese en regskostes te dek.

“Hilton Pretorius – geliefde pa, seun en broer – veg tans om sy lewe in die hospitaal. Hilton het baie ernstige beserings opgedoen en is tans in die intensiewesorgeenheid (ICU). Sy skedel is gekraak, hy het bloeding op die brein en word op die oomblik onder sedasie gehou. Sy mediese en regsonkoste is astronomies. Ons vra vir enige hulp, indien moontlik, om die familie te help in dié verband,” lui die boodskap van die geldinsamelingsinisiatief.

ʼn Video van die voorval het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Die polisie het versoek dat lede van die publiek nie die video verder versprei nie omdat dit met die ondersoek kan inmeng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.