Kleuter (2) uit Senegal-tronk na SA gerepatrieer

(Argieffoto: Acsa)

Maatskaplike werkers van die departement van maatskaplike ontwikkeling het Sondagoggend op die OR Tambo- internasionale lughawe in Kempton Park aangekom met ’n tweejarige kind wat uit ’n gevangenis in Senegal na Suid-Afrika gerepatrieer is.

Die kleuter is in ’n gevangenis in Dakar gebore enkele dae nadat sy of haar ma (geslag doelbewustelik weerhou) vir dwelmhandel in hegtenis geneem is en was tot onlangs nog in haar sorg.

Die kind is egter nou op pad na die Oos-Kaap waar hy of sy in familie se sorg geplaas sal word.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling is in Augustus verlede jaar deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) in kennis gestel van die kind. Daar is toe besluit dat die kind nie langer in die ma se sorg kon bly nie aangesien ’n tronk nie ’n bevorderlike omgewing vir die opvoeding van ’n kind is nie.

Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, sê amptenare van Dirco het die ma as deel van die repatriasieproses in aanhouding besoek om met haar te gesels oor haar wense vir haar kind.

Die ma het haar kind se ouma as voog benoem terwyl sy haar vonnis in Senegal uitdien.

Oliphant sê die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling het vandaar die Oos-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling versoek om ondersoek in te stel na die ouma se omstandighede om te bepaal of die ouma geskik is om na die kind om te sien.

“Die kind sal nou by die ma se familie in die Oos-Kaap geïntegreer word en die departement sal daarmee voortgaan om kinderbeskermingsdienste en ondersteuning aan die gesin te verskaf.”

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, sê haar departement sal altyd die kind se belange eerste stel, “maar ons bly bekommerd oor die kwessie van dwelms en wat dit aan kinders kan doen.

“Hierdie was ’n ongebore baba wat in nood in ’n vreemde land beland het omdat die ma vir dwelmhandel in hegtenis geneem is. Ons kan nie sterker aan jongmense die belangrikheid beklemtoon om die regte besluite oor hul lewens te neem nie.”

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het sedert 2015 altesaam 21 kinders na Suid-Afrika gerepatrieer wat in die buiteland in nood was. Die kinders is uit onder meer Brasilië (3), Malawi (2), Mosambiek (2), Zimbabwe (7), Ghana (1), die Verenigde Koninkryk (1), Peru (1), Mauritius (1), Kanada (2), Senegal (1) en Tanzanië (2) na Suid-Afrika gerepatrieer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stofdonkie ·

Die kind is dus op tweejarige ouderdom al reeds twee jaar in die tronk gewees. Sou die kind eendag ‘n misdryf pleeg sou die twee jaar sekerlik van die kind se vonnis afgetrek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.