Die moordenaars van die tweejarige Caydene Ruiters is Dinsdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis.
Marcus Malgas (25) en Gregory van Staden (30) is Maandag skuldig bevind op aanklag van moord, ses aanklagte van poging tot moord en aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Dit kom nadat Caydene op 14 Desember verlede jaar voor haar huis in Helenvale doodgeskiet is. Sy is deur ʼn dwaalkoeël van ʼn bendeverwante skietery getref.
Malgas is dieselfde dag in hegtenis geneem terwyl Van Staden in Januarie vasgetrek is.
Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê Malgas is tans besig om lewenslange tronkstraf plus nog 32 jaar uit te dien vir vorige veroordelings vir moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen wat hy in Oktober en November 2015 gepleeg het. Beide Malgas en Van Staden is lede van die berugte “Sestien honde”-bende.
Albei is Dinsdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van moord, tien jaar tronkstraf elk vir ses aanklagte van poging tot moord en 20 jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Elkeen is dus effektief tot 40 jaar tronkstraf gevonnis, het Naidu gesê.
Die SAPD-bestuur het die vonnis verwelkom.
AWESOME!!!!! Dit is wonderlik dat daar darem vir ‘n slag geregtigheid gebeur het. Goed gedoen.
Die bendenaam sê als. Ek is baie bly hul is vas.
Ek wonder waar is die ander 14 honde?
Dankie Vader, hoop hulle bly daar tot in ewigheid
Die siel het vorige veroordelings vir moord maar hy loop op vrye voet rond. Nee wat, die gemors word nie hard genoeg gestraf nie. Hulle hoort nie in die sameleweing nie en hulle moet ook nie op ons belastinggeld teer nie.
As hulle nou so in die tronk sit en nadink, sal hulle besef dat verkeerde vriende jou in die verderf kan insleep. So jongmense, wees gewaarsku en wees versigtig met wie julle bevriend raak. Wee liewer “uit”.