Klimaat kry skuld vir kwaai vloede in KZN

Oorstromings in die Durban-gebied het reeds meer as 400 lewens geëis en groot skade aan infrastruktuur aangerig. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Suid-Afrika, Afrika se mees geïndustrialiseerde land, het tot dusver grootliks die tropiese storms vrygespring wat sy buurlande gereeld tref. Verlede week het woeste storms hoofsaaklik KwaZulu-Natal getref en oorstromings en grondstortings veroorsaak wat reeds meer as 440 lewens geëis het.

Volgens meteoroloë was die storms nie tropies nie, maar deel van ʼn normale Suid-Afrikaanse weerstelsel bekend as ʼn afsny-laagdruk wat swaar reën en koue weer kan veroorsaak.

“Afsny-laagdrukstelsels is ʼn gereelde verskynsel. Dit kom gereeld in herfs en lente voor en verskil in sterkte,” sê Puseletso Mofokeng van die Suid-Afrikaanse Weerdiens.

Sommige van die stelsels is uiters kragtig en veroorsaak swaar reën, hael, sterk wind wat skade kan aanrig, asook swaar sneeuneerslae.

ʼn Afsny-laagdrukstelsel in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal het in April 2019 tot altesame 85 sterftes bygedra. As die stelsel self dan nie vreemd is nie, was die intensiteit van die storms hierdie keer die verskil. Hier wys kenners die vinger na klimaatsverandering: warmer oseane vul die atmosfeer met meer vog, wat dan as reën neergelaat word.

“Ons het in Durban drie ernstige vloede in minder as 10 jaar gesien. Het dit te doen met klimaatsverandering? Beslis,” sê Mary Galvin, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg.

“Ons voel die uitwerking van wat ongetwyfeld onvoorspelbare, meer gereelde, ernstige en uiterste weersverskynsels gaan wees.”

ʼn Onlangse verslag van die Verenigde Nasies (VN) sê wat eens as ʼn een-in-ʼn-honderd-jaar-oorstromingsgeval beskou is, kan tot in 2050 moontlik verskeie kere per jaar gebeur.

Hoekom juis Durban?

Nagenoeg ʼn kwart van die metro se 3,9 miljoen inwoners woon in 550 informele nedersettings om die stad en minstens 164 van dié nedersettings is op vloedvlaktes gebou. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Durban is geen vreemdeling vir oorstromings nie, maar gewoonlik nie naastenby so erg as dié nie.

Die stad is gebou op ʼn heuwelagtige gebied met talle klowe – topografie wat Hope Magidimisha-Chipungu, ʼn stadsbeplanner verbonde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, bestempel as bevorderlik vir vloede.

As die grond op heuwelagtige gebiede nie behoorlik gestabiliseer word nie, gaan jy ongetwyfeld grondstortings hê, sê sy.

Durban, ʼn 187 jaar oue stad, se stormwater-dreineringstelsel is moontlik ook nie behoorlik in stand gehou nie, hoewel stadowerhede dié bewering betwis.

Durban is egter nie die enigste wat onder uiterste weersomstandighede deurgeloop het nie.

Aan die weskus het die water in Kaapstad in 2018 weens ʼn droogte byna heeltemal opgedroog.

“Klimaatvoorspellings en modelle wys dat nat gebiede natter gaan word, en droë streke gaan droër word. Durban gaan dus ongelukkig natter word,” sê Galvin.

Beplanning

Durban is een van Suid-Afrika se snelgroeiendste stede, met ekonomiese groei wat die nasionale gemiddeld al teen 2015 verbygesteek het.

Enorme, onbeplande migrasie het egter behuisingstekorte veroorsaak, wat gelei het tot die opspring van talle informele nedersettings.

“Die maniere waarop Suid-Afrikaanse stede ontwerp is, was eksklusief van aard,” sê Magidimisha-Chipungu.

“Die ruimtelike beplanning en die nalatenskap van apartheid het stedelike armes aan die rand en op die laagliggende gedeeltes langs rivieroewers geplaas.”

Nagenoeg ʼn kwart van die metro se 3,9 miljoen inwoners woon in 550 informele nedersettings om die stad. Volgens Galvin is minstens 164 van dié nedersettings op vloedvlaktes gebou.

ʼn Vlaag teenspoed die afgelope tyd het hulpbronne boonop verder getap: die koronaviruspandemie, enorme werkloosheid en die plundering en oproer wat die streek verlede jaar geruk het.

Dis soos “die sewe plae” wat na mekaar gebeur, sê Galvin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Geen dreineeringstelsels word/is instand gehou sedert die huidige regering oorgeneem het nie.
So die slag kan die skuld vir die ramp beslis nie op apartheid gebaseer word nie.

Althes

Ai kry apartheid weer die skuld? Die afgelope 30 jaar het jul eenvoudig net gebou, nie in stand gehou nie, nie behoorlik beplan nie.
O ja, dis omdat jul te besig was om staatsfonse te plunder.

Marius

Die grootste probleem is oorbevolking. Die droigtes, vloede en baie water was nog altyd daar en het ek ook groot vloede beleef as kind. Die aard verwarming storie is bog. Alles is gebaseer op siklusse, bv 7 jaar baie reën 7 jaar droogte ens. Alles word gemanupileer om die kapitaliste se geld sakke te vul. Wat dink hul gaan gebeur met al die brandstof voertuie as daar net elektriese voertuie op die paaie is. Gaan dit nie ‘n besoedelings uitdaging word nie. Hoe gaan hul voldoen aan die addisionele vraag na krag ? Met eishkom aan die stuur gaan almal… Lees meer »

Samuel

Beplanning ? Stelling: Enorme, onbeplande migrasie het egter behuisingstekorte veroorsaak, wat gelei het tot die opspring van talle informele nedersettings. Vraag: Wie het dit toegelaat om te gebeur? Stelling: “Die maniere waarop Suid-Afrikaanse stede ontwerp is, was eksklusief van aard,” sê Magidimisha-Chipungu. Antwoord: Nee dit was goeie beplanning., deur kundiges, met infrastruktuur wat eers geskep was Stelling: Nagenoeg ʼn kwart van die metro se 3,9 miljoen inwoners woon in 550 informele nedersettings om die stad. Volgens Galvin is minstens 164 van dié nedersettings op vloedvlaktes gebou. Vraag: Hoekom juis daar plak? Geen beplanning, want ons kan niks vir onself doen… Lees meer »

Schalk

Klimaat kan vir alles die skuld kry maar vir mense wat in vloedlyne bou? Mense wat op hellings bou sonder die nodige navorsing en grondtoetse? Mense wat paaie bou sonder om stormvloede in agteneem? Brue bou wat nie op standaard is op gereeld onderhou word nie? Substandaard werk op kritiese strukture.