Kliniek help SA pikkies van uitwissing red

Seevoëlbewaarders maak reg om die pikkewyne te voer. Tientalle pikkewyne ontvang in hierdie stadium behandeling. (Foto: Marco Longari/AFP)

ʼn Toegewyde rehabilitasiesentrum in Gqeberha is op ʼn missie om die Afrika-pikkewynspesie van uitwissing te red.

“Ons probeer om van die skade wat mense oor die jare heen aan hierdie voëls aangerig het om te keer,” sê Caitlin van der Merwe van die Suid-Afrikaanse Nasionale Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sanccob).

Die bedreiging van klimaatsverandering en menslike bedrywighede het hierdie spesie pikkewyne se bevolkingsgroei reeds kwaai geknou.

Ongeveer 50 000 pikkewynpare het drie dekades gelede die kuslyne van Suid-Afrika en Namibië bewoon. Dié getal het intussen tot 10 000 pare afgeneem.

Dit is ʼn afname van 80% in die pikkewyne se bevolking. Dierkundiges sê dit is uiters kommerwekkend, aangesien ʼn gesonde pikkewynbevolking ook ʼn aanduiding van ʼn gesonde mariene ekostelsel is.

“Die spesie se bevolking neem af. Dit beteken dat daar ʼn groot probleem in die mariene omgewing is,” sê Carl Havemann, hoof van die pikkewynkliniek in die Oos-Kaap.

Dié kliniek is in hierdie stadium stampvol siek pikkewyne en die afgelope twee weke is altesame 40 kuikens van Bird Island daarheen oorgeplaas. Dié eiland is die tuiste van een van Afrika se grootste bevolkings en is sowat 60 km van Gqeberha geleë.

‘n Pikkewyn plas rond in die swembad by Sanccob se sentrum in Qgeberha. (Foto: Marco Longari/AFP)

Onlangse reën het egter verskeie neste weggespoel en veroorsaak dat kuikens verdrink of weens hipotermie vrek.

Omdat die pikkewyne se neste – wat ʼn mengsel van mis en oorblyfsels is wat met verloop van tyd ophoop – deur mense geplunder word vir natuurlike kunsmis, moet die pikkewyne nou klaarkom met takke of krake in die rotse wat nie so ʼn stewige tuiste maak soos hul natuurlike neste nie.

“Met klimaatsverandering word weerstoestande al hoe meer ekstreem en dit raak ook nou natuurlike kolonies,” sê Havemann.

Sommige van die pikkewyne wat wel die gure weer oorleef het, word tans in die rehabilitasiesentrum se intensiewesorgeenheid behandel.

Personeel skarrel om al honderd van die pikkies se wonde te ontsmet, toe te werk en medikasie te gee, terwyl hulle die klein pasiënte ook met ʼn voetbad en sardientjies bederf.

Groepies pikkewyne drom saam weens die al die bedrywighede, terwyl ander voeding kry deur ʼn klein buisie in die slukholte. Helaas moet van die pikkewyne wat nie gered kan word nie, ook van kant gemaak word.

Sommige van die pikkewyne wat by die sentrum versorg word. (Foto: Marco Longari/AFP)

Dié wat fiks genoeg is, baljaar in die swembad as deel van die rehabilitasieproses.

“As hulle nie swem nie, drink hulle nie,” sê Van der Merwe.

Die doel is egter om die pikkewyne binne die kortste moontlike tyd weer in die natuur vry te laat sodat die interaksie met mense beperk word.

Benewens die veranderende weerstoestande word Afrika-pikkewyne se getalle ook deur siektes, oorbevissing en besoedeling bedreig.

Gqeberha het een van die grootste hawens in Suid-Afrika en groot vragskepe word in die hawe met brandstof opgevul. Brandstofstortings beteken dat natuurbewaringsorganisasies ook moet spook om oliebedekte pikkewyne te red.

Volgens die minister van omgewingsake kan Afrika-pikkewyne teen die huidige koers binne ʼn dekade uitsterf.

“Die see is kompleks. As ons hier en daar stukkies vat, sal die hele stelsel in duie stort,” sê Van der Merwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.