Klopjag op kapwinkel: Talle gesteelde, gekaapte voertuie gevind

Die bakwerk van 11 voertuie is by die kapwinkel gevind (Foto: SAPS Facebook)

Die polisie het Donderdag tydens ʼn multidissiplinêre operasie op ʼn kapwinkel digby Lenasia in Gauteng toegeslaan en op amper 30 gesteelde en gekaapte voertuie, asook die bakwerk van 11 voertuie beslag gelê.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het by die kapwinkel op altesaam ses luukse voertuie afgekom wat reeds uitmekaar gehaal is. Die voertuie is tussen Augustus 2019 en Julie 2020 in verskillende dele in Gauteng gekaap. Daar is ook op nog vier voertuie, ʼn boot en ʼn sleepwa wat in 2015 by die Florida-polisie as gesteel aangemeld is, beslag gelê.

Tien ander voertuie wat gevind is, het VIN-nommers gehad waarmee gepeuter is. Die polisie het op al die voertuie beslag gelê vir verdere ondersoek.

“Die provinsiale voertuigmisdaadondersoekeenheid gaan die saak verder ondersoek en geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.”

In hierdie stadium het voorlopige ondersoeke bevind dat een van die luukse voertuie sonder toestemming van ʼn ongelukstoneel weggesleep is.

Intussen is sewe voertuie, onder meer ʼn Quantum, by ʼn padblokkade op die N12-snelweg voorgekeer en op beslag gelê omdat dit vermoedelik gesteel of gekaap is.

Verder is ʼn verdagte in Lenasia in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om polisiebeamptes om te koop wat beslag gelê het op vervalste goedere (klere en skoene) wat in sy besit gevind is.

“Nie ver van hierdie toneel af nie, het ʼn ander span van die polisie saam met beamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens op ʼn huis toegeslaan en bokse vol houers met onwettige sigarette gevind waarvan die waarde nog bepaal moet word.”

‘n Vermoedelik gesteelde boot is ook gevind (Foto: SAPS Facebook)

Lt.genl. Elias Mawela, die provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het saam met die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, Faith Mazibuko, die operasies in die Johannesburg-distrik gelei.

Die distrikskommissarisse aan die Wes-Rand, Sedibeng, Tshwane en Ekurhuleni het in dié gebiede die operasies gelei.

Aan die Wes-Rand het die polisie Donderdagoggend saam met Eskom gewerk en ʼn operasie aangepak om onwettige elektrisiteitsverbindings in die Muldersdrift-omgewing te verwyder.

“Die geïntegreerde span het die onwettige verbintenisse verwyder. Daar is hierna op twee verskillende plekke twee verdagtes in hegtenis geneem wat in die besit van vermoedelik gesteelde Eskom-transformators gevind is.” Daar is op drie transformators en kabels beslag gelê.

Na verneem word, het dit daartoe gelei dat ʼn groep betogers die N14-snelweg versper en die polisie aangeval het.

Altesaam 187 ander verdagtes is in hegtenis geneem vir verskillende oortredings in die Wes-Rand-omgewing, terwyl 34 van dié verdagtes vasgetrek is omdat hulle onwettig in die land is.

Altesaam 148 van die verdagtes wat vasgetrek is, is suksesvol opgespoor tydens die speurders se ondersoeke ná lasbriewe vir inhegtenisneming uitgereik is weens misdade soos moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, kinderverwaarlosing, die rig van vuurwapen en die besit van dwelms.

In Ekurhuleni, waar die geïntegreerde span die strate van Ivory Park, Alberton en Etwatwa aangedurf het, is die meeste verdagtes in hegtenis geneem vir die besit en/of handel dryf in dwelms, soos Mandrax en dagga. ʼn Aantal drankafsetpunte is vir verskillende oortredings gesluit en daar is beslag gelê op drank.

Altesaam 277 verdagtes, van wie 222 op die polisie se lys van gesoekte verdagtes was, is in hegtenis geneem.

“Die samewerking tussen die polisie en die gemeenskap in Sedibeng het meegebring dat die multidissiplinêre span beslag gelê het op meestal onwettige sigarette en drank uit winkels wat onwettig handel gedryf het.”

Die operasies in Tshwane het gelei tot die inhegtenisneming van 279 gesoekte verdagtes, drie vir die besit van dwelms en 11 omdat hulle onwettig in die land is. Vyf onwettige drankwinkels is gesluit en boetes is uitgereik aan vyf handelaars.

Mawela het die suksesvolle operasies van die polisie geloof.

“Ek het vroeër gesê dat ons die momentum van hierdie operasies by duikkloppers of kapwinkels moet volhou om uiteindelik die mark vir kapings en diefstal van voertuie te help bekamp, want dit hou dikwels geweld teen die slagoffers in,” het Mawela gesê.

Al die verdagtes wat tydens die operasies in hegtenis geneem is, sal na verwagting eersdaags in verskeie howe in die provinsie verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Oplossing is gebiedspolisiering waar beamptes verantwoordelik is vir ‘n geografiese gebied wat hul soos die palm van hul hand ken en gereeld patroleer en besoek.. Enige onreelmatighede sal dadelik opgespoor word. Voorwaar de dat beampte geroteer moet word om omkopery te voorkom en dat hul moet belangstel in hul werk en nie net vir salaris daar is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.