Koloniale erfenis: Suid-Afrikaners het soveel om van mekaar te leer

pitika-ntuli-en-danie-goosen

Prof. Pitika Ntuli, akademikus en kunstenaar, en prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK. Foto: Youtube.com

Kan Suid-Afrikaners anderkant die uitsluitende terme van “boos” en “goed” met betrekking tot ons koloniale erfenis beweeg?

Beslis, het twee gerekende denkers vandag tydens ʼn ontbytgesprek van die FAK by die Voortrekkermonument in Pretoria aangevoer.

Prof. Pitika Ntuli, akademikus en kunstenaar, en prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, was albei van mening dat Suid-Afrikaners nog baie het om van mekaar te leer en nie kan bekostig om nou verder deur goedkoop politieke retoriek verdeel te word nie.

Die FAK het besluit om ʼn forum te skep vir ʼn gesprek oor die koloniale erfenis ná die storm wat onlangs daaroor op Twitter ontketen is na aanleiding van ʼn twiet van Helen Zille, voormalige leier van die DA en premier van die Wes-Kaap, waarin sy aangevoer het kolonialisme was nie altyd sleg nie.

Volgens Goosen sal Suid-Afrikaners aanhou om heftig met mekaar oor die betekenis van dié erfenis te verskil en ʼn belangrike rede hiervoor lê in die aard van die gesprek opgesluit. “In plaas daarvan om mekaar te hoor, word in uitsluitende terme geredeneer en geen nuanse word geduld nie. Uit ervaring weet ons mos dat dit ʼn eerlike gesprek verhoed. As ons beter instrumente soos hierdie gespreksforum inspan, kan die verskillende standpunte mekaar ten minste beter hoor en kan ons selfs iets van mekaar leer.”

Goosen het gesê dit is vir Afrikaners van die grootste belang om gelyke grond met die beweging vir dekolonialisering te vind, selfs al verskil die groep van mekaar op sekere aspekte.

“Alle Suid-Afrikaners het in ʼn stadium teen kolonialisme baklei. Die basis van die dekolonialiseringsbeweging is juis die soeke na waarheid en Afrikaners kan hiermee assosieer. Dekolonialisering staan die homogenisering van die samelewing teë en vra vir demokratiese gemeenskappe wat vry is van ʼn uniforme gesentraliseerde mag.

“Afrikaners moes ook verby die politiek van wrok teen die kolonialistiese magte lewe – as ʼn mens daarby vashaak is dit selfmoord. Afrikaners het geleer om dit te oorkom deur ʼn etos van harde werk te skep en deur verantwoordelikheid te neem vir ons eie gemeenskap. As ʼn mens eers verantwoordelikheid vir jouself neem word jy werklik vry, al volg die ekonomiese en politieke vryheid nie onmiddellik nie,” het Goosen gesê.

Hy het verder gevra dat die beweging vir dekolonialisering duidelik moet onderskei tussen modernisering wat hand aan hand met die verskynsel wêreldwyd geloop het en die neigings van die moderne staat om mag te sentraliseer ten koste van gemeenskappe, hulle regte en kultuur. “Ongelukkig is Afrikaners tans weer aan die ontvangkant van ʼn gesentraliseerde staat, maar al wat ons is vra is onder meer redelike seggenskap oor skole en een of twee universiteite.”

Tydens die gesprek het Ntuli verduidelik waarom dekolonialisering nodig is en wat alle Suid-Afrikaners oor die kleurgrense heen verloor het toe die land deur die Britte gekolonialiseer is. Hy het aangevoer dat kolonialisme veroorsaak het dat Suid-Afrikaners vergeet het van die ryke erfenis van antieke Afrika – wat nie net kuns nie, maar ook komplekse wetenskaplike en wiskundige beginsels ingesluit het. “Toe ons gekolonialiseer is, is Afrikane as barbaars afgemaak, maar baie van die beginsels wat nou eers deur die Westerse wetenskap uitgepluis word, het reeds in sekere Afrika kulture bestaan.”

Hy het onder meer verwys na die Dogon-mense van Mali wat in hul ontstaansverhale reeds na dít wat nou as stringteorie bekendstaan verwys het.

“Ons wat almal vandag hier voor mekaar sit is gebroke mense en ons moet onsself toelaat om gedekolonialiseer te word. Ons moet elkeen weer trots wees op ons eie kultuur en taal, want ʼn mens se taal is die belangrikste deel van jou menswees. Jy kan jok oor alles anders, maar jou taal sal altyd wys wie jy werklik is,” het Ntuli gesê.

“Apartheid was ʼn wit stelsel, maar almal in die Suid-Afrikaanse samelewing het dit geïmplementeer en die mense wat teen hierdie stelsel baklei het, het van reg oor die kleurspektrum van die plaaslike samelewing gekom. Kolonialisme het ons almal van ons Afrika-identiteit beroof. As ons egter aanhou om apartheid te blameer vir alles wat verkeerd gaan in hierdie land, is ons besig om Mandela se droom vir Suid-Afrika te verloën. Ons het die nuwe Suid-Afrika goed begin en nou staan ons voor ʼn nuwe morele dilemma. Niemand kan egter aanspraak maak dat sy of haar voorouers meer geregtig daarop was om in die land te bly as iemand anders nie,” het Ntuli afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Adam ·

Pragtige woorde en argumente wat weinig beteken. Die meerdeerheid mense in SA streef na ‘n beter verlede en te hel met die toekoms. Dit is ongelukkig een van ons grootste probleme, Ons moet natuurlik ook nie van ons gebrek aan goeie maniere vergeet nie, iets wat dalk meer belangrik is as die sg. ideologiese verskille.

Ange ·

Op die ou einde wil julle he die wit Afrikaner moet op n permanente guilt trip wees soos die Duitsers vandag wat niks met die Tweede wereld oorlog iets te doen gehad het nie. Die Weste self het ap part heid toegepas en Engeland (wat dit hier ingestel het) het hulle propaganda so goed gedoen dat hulle tot vandag toe skotvry daarvan afkom en die Afrikaner dra alleen die blaam.

Wat sommige basies wil he is al die luxuries van (Engelse) kolonialisme maar wil kerm dat dit sleg was en soek n permanent scapegoat (Die Afrikaner).

Ek weet nie hoe mens enigsins n middle ground vind met die denkwyse nie.

Dirk Breytenbach ·

Ek kan net saanstem! Die geleentheid is nou daar om mekaar te vind en verby die goedkoop politiekery te beweeg na ‘n gebalanseerde samelewing met wedersydse respek. Dan kan almal saam die goeie van die verlede gebruik om te bou aan ‘n volhoubare samelewing.

popeye ·

Ek verstaan dat die Dogon van Mali nie aanspraak maak op die “ontdekking” dat Sirius uit meer as een ster bestaan nie. Dit en die kennis dat Jupiter mane het ensomeer, is aan hulle gegee deur wat hulle die “Nommos” noem. Die artikel laat dit so blyk of Ntuli wil voorgee dat dit die Dogon se ontdekkings was.

Dirk Hall ·

Voordat ek van enige ander kultuur iets wil leer, soek ek respek en ruimte vir my kultuur. Ek wil Afrikaans wees op skool, Varsity, in die kerk en die Hof. As dit my nie gegun word nie dan stel ek nie belang nie. As ‘n Zulu nie ‘n Zulu wil wees nie is dit nie my skuld nie. Ek skuld niemand niks nie. Ek voel geen skuld oor die verlede nie en verwerp die huidige politieke stelsel met afsku en ook die gene wat deel daarvan wil wees.

humor ·

Dirk, in my het jy n geesgenoot en ek glo daar is nog baie ander soos ons.

snoefie ·

kolskoot dirk. so voel ek ook. as hulle so die universiteite vandaliseer oor arme vertrapte Afrikaans, skree dit absoluut KOLONIALISME! was kolonialisme nie teen alles wat nie Engels was nie? swartmense (verskoon die term maar dis alles insluitend) assosieer witmense met kolonialisme en dis heeltemal verkeerd. het die Afrika dans sprekende Suid Afrikaner nie meer gely onder kolonialisme as enige swart stam nie? ek wil pro Ntuli vra hoekom hy nie n beroep op swart studente wie so vandaliseer BT universiteite in die naam van #Afrikaans must fall, om die Afrikaanssprekende studente se trots op hulle taal te respekteur en eerder hulle taal in hulle volkseie universiteite te gaan nastreef nie? die Afrikaanssprekende Suid Afrikaner het nie due universiteite aan die brand gaan steek en probeer vernieyig our #Afrikaans must fall nie. nee! nee! hulle het hulle eie Afrikaanse universiteite gaan stig. nie die Zulu’s, Xhozas of enige van die ander het genoeg taaltrots gehad om dieselfde te gaan doen nie.

christo ·

Ek wil net vir die prof vra vir meer besonderhede oor die wetenskaplike en komplekse wiskundige beginsels wat afrika al jare gelede gehad het en wat die westerse kennis eers nou ontdek

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons weet vandag nie meer wat is toelaatbaar en wat nie. Maw wat kan jou in die tronk/hof laat beland en wat nie. Ek het NOOIT geweet ek sou in die moeilikheid kon kom as ek iets goeds van kolonianisme sou se nie. En ek is NIE die enigste nie. Ek is te bang om te se ek is wit want dalk is ek dan die vyand/of iets. Ons kan net nie meer byhou nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.