Kom bid saam vir reën in die Oos-Kaap

Die Kouga-dam in die Oos-Kaap. Die foto is in 2019 geneem. (Foto: Gamtoos-besproeiingsraad)

Inwoners van die Oos-Kaap kom Saterdag (17 April) by die Kougadam naby Patensie byeen om vir reën in die provinsie te bid. Die Oos-Kaap kry al ʼn paar jaar lank nie voldoende reën nie en die Kougadam het slegs 4,8% water. Daar is hierdie week aangekondig dat Dag Zero in dié streek op 1 Junie sal aanbreek indien dit nie voor dan behoorlik reën nie.

Wikus Nel, een van die organiseerders van die biddag, nooi almal wat wil deel wees om ʼn kampstoel en sambreel te bring en saam te bid.

Die dag skop om 10:00 af wanneer almal eers saam met ʼn orkes sal deelneem aan lofprysing. Daarna gaan ʼn paar mense die skare toespreek. Laastens sal die aanwesiges geleentheid kry om in groepe saam te bid.

“Ons wil hê dat mense op hierdie dag verenig, saambid en saam op die Here vertrou. ʼn Mens is as ’n eenheid sterker,” sê Nel.

Nel sê talle boere gaan onder erge droogte gebuk en is al op hul knieë gedryf om vir reën te bid. Hy sê die Oos-Kaap se dam- en riviervlakke daal by die dag en dié vlakke kan slegs herstel word met ʼn goeie bui reën.

“Ons het op ʼn plek gekom waar ons die Here moet vertrou. Dag Zero kom al hoe nader en as ons in die media lees dat daar nie reën voorspel word nie, is dit nou slegs die Here wat kan help.

“Ons het ʼn groot verwagting vir wat God op die biddag wil doen. Die Here sê in Mattheus 6:33 ons moet sy aangesig eers soek, en dit is wat ons met hierdie biddag wil doen.”

Nel, ʼn prokureur van Port Elizabeth en ook ’n leier van die Doxa Deo-gemeente in die stad, vertel hy het sowat twee weke gelede ʼn boodskap van die Here gekry om so ʼn biddag te reël.

“ʼn Week het verbygegaan en ek het gebid oor die saak. Ek en my gesin het toe Paasnaweek in Plettenbergbaai gaan kamp. Daar loop ek toe ʼn ander Wikus Nel raak, wat sê dat hy ook ʼn week gelede dieselfde boodskap van bo ontvang het.”

Dié twee naamgenote het toe die leisels geneem om die biddag te reël. Die Doxa Deo-gemeente staan agter hulle. Die bekende sanger Heinz Winkler het ook intussen ingespring om met die reël van die dag te help.

Nel sê hulle het geen idee hoeveel mense hulle op die dag kan verwag nie, maar glo en vertrou dat alles goed sal afloop.

“Ons wens is dat mense se hoop op reën na dié dag herstel sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willem ·

Sal ongelukkig nie daar kan wees maar bid elke dag saam met julle

Roedolf Johannes ·

Die mens is vinnig om bid dae te reël as ons in die NOOD is,maar daar word Nooit DANKIE se dae gereël nie.Wonder maar net of die persone wat altyd so vinnig is om die NOOD bid dae te reël ook nie DANKIE se bid dae kan reël nie.Wonder maar net

Casper ·

Ek soek die aangesig van die Here elke dag op in gebed nie net as dit sleg gaan nie.Kyk maar wat het Hy in die Nooerd Kaap en Vrystaat gedoen.Al kort die Noord Kaap reën het hy mense gestuur met noodvoorraad.

Cd ·

God wil he dat ons moet bid in nood.
Lewe n lewe van dankbaarheid , selfs in moeilike tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.