Laaste kans: Kom kry ‘n stukkie kultuur saam met Maroela

Kuns en klank – kom kry ʼn stukkie kultuur!

Ons het goeie nuus vir elkeen wat al net so lus is soos ons vir ʼn aandjie uit – ʼn geleentheid om net weer ʼn bietjie kultuur te smaak.

Van die beste Afrikaanse musikante op een verhoog tydens Maroela se aand van Kuns en Klank is net die medisyne wat jy nodig het!

Kom verlustig jou in die kunswerke van Lidi de Waal en Anna Davel voor Jannie Moolman, Leon Gropp, Saarkie, Lizanne Barnard en Anna Davel ons met hul musiek gaan bekoor. Die nimlike Lizz Meiring is ons gasvrou vir die aand.

Bespreek sommer dadelik jou sitplek vir Kuns en klank op 14 November 2020 by die Atterbury-teater in Pretoria. Die deure maak om 18:00 oop vir die kunsuitstalling en die vertoning begin om 19:00. Die vertoning is 90 minute lank. Kaartjies kos R195-00 per persoon.

Opskud, daar is slegs enkele kaartjies beskikbaar omdat ons ten alle tye aan Covid-19-regulasies sal voldoen.

Koop jou kaartjie

Lizz Meiring vier in 2020 al 36 jaar in die uitvoerende kunste. Van Lady Macbeth tot ʼn pop-up toaster – sy’t al als gespeel! Sy het reeds 19 toekennings ontvang as akteur, regisseur en skrywer en toekennings vir haar kulturele bydrae en lewenslange bydrae tot die kunste.

Jannie Moolman se veel bekroonde operaloopbaan het in 1990 begin. In 1992 word hy ʼn solosanger by die Staatsteater in Pretoria. In 1994 maak hy sy debuut by die Kaapstad-opera. Jannie was voorheen deel van die bekende groep: Ons Eie Drie Tenore. Hy tree gereeld saam met Rina Hugo op en hul duet-album het platinumstatus bereik.

Leon Gropp is al sedert 2005 in die musiekbedryf, hoofsaaklik as een helfte van die internasionaal bekroonde kitaar-duo, CH2. Hy het oor die jare bekend geword vir sy virtuoos kitaarspel, pragtige stem, sielvolle musiek, betekenisvolle lirieke, unieke musiekverwerkings en gesellige verhoogpersoonlikheid. Hy het reeds drie SAMA-toekennings en verskeie ander toekennings ontvang vir sy rol in verskeie musiekprojekte.

Saarkie bestaan uit drie musikante: Adèle Fouché (kitaar, mondfluitjie en hoofsanger), Lila Botha (dromme en agtergrondstem) en Mjon van Blommstein (baskitaar, ukelele en agtergrondstem). Die groep se vierde album is in 2018 met die Ghoema-musiektoekenning vir die Beste Rock-album van die jaar bekroon. Hulle bied ʼn eiesoortige, energieke, iets wat jy nie wil misloop nie-musiekstyl wat getuig van hulle talent, passie en sinergie.

Lizanne Barnard was tussen 1994 en 2012 deel van die duo MARIMBA! Hulle was baanbrekers in die Woordkuns-genre met hulle toonsettings van die werk van onder andere Eugène Marais, Ingrid Jonker en NP Van Wyk Louw. In 2014 het sy haar as solokunstenaar begin vestig. Met die afsonderingsperiode in 2020 het Lizanne ʼn Facebook-inisiatief, Stuur vir my jou woorde – ek maak vir ons ʼn liedjie, van stapel gestuur. Die eerste twee konserte is baie positief ontvang en Woorde III was vroeg in Oktober op die planke.

Anna Davel se loopbaan het in 1997 begin toe sy as die algehele wenner van die Crescendo- nasionale sangkompetisie aangewys is. Sy was ook deel van die a capella-groep Cutt Glass. Sy spog met nege hoogaangeskrewe albums, ʼn Sama-toekenning en verskeie ander nominasies en toekennings. Sy het ook al ʼn draai op die silwerskerm gemaak in verskeie TV-programme en flieks.

Lidi de Waal is ʼn skrywer en skilder en het ook in haar vroeër jare beeldhouwerk gedoen. Sy skryf oor die lewe, die liefde en herinneringe oor haar grootwordjare op ʼn plaas buite Fraserburg in die Groot Karoo. Sy het in 2016 haar eerste boek, Kleur van Woorde uitgegee, waarin daar prente van haar skilderye met gedigte verskyn het.

***

Teaterveiligheid en protokol

– Sitplekke word twee-twee beskikbaar gestel volgens veiligheidsmaatreëls
– Nie meer as twee gehoorlede mag langs mekaar sit nie
– Slegs beperkte sitplekke beskikbaar (50% kapasiteit)
– Maksimum spasie word tussen gevulde sitplekke oopgehou.
– MASKERS IS VERPLIGTEND
– Temperatuur word geneem
– Intekenvorm moet voltooi word
– Maak seker jy is betyds om in te teken (voorportaal maak ‘n uur voor die vertoning oop)
– Ontsmetmiddel/handreiniger is in die voorportaal beskikbaar
– Kunstenaars sal nie ná die vertoning foto’s kan neem of handelsware teken nie
– Kaartjies kan slegs aanlyn gekoop word by iTickets.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.