Kommer oor BL-verkiesings weens laat regulasies

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) is bekommerd dat vanjaar se beheerliggaamverkiesings in chaos gedompel kan word omdat die meeste nuwe provinsiale verkiesingsregulasies steeds nie gepubliseer is nie.

ʼn Nasionale taakspan het verlede jaar reeds nasionale riglyne daargestel om as provinsiale regulasies gepubliseer te word. Indien dié regulasies nie teen die einde van Woensdag gepubliseer word nie, is daar ʼn groot kans dat die verkiesing in Maart aan dieselfde gebrekkige regulasies van die 2021-verkiesing onderwerp gaan word.

“Ons het die dringendheid van die publikasie verlede week onder die aandag van die minister van basiese onderwys [Angie Motshekga] gebring tydens ʼn vergadering van die nasionale raadplegende forum. Sy het onderneem om dit verlede week nog met die raad van onderwysministers te bespreek,” het dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, Woensdag gesê.

Volgens Deacon het nog slegs die Vrystaat die nuwe verkiesingsregulasies gepubliseer.

“Sommige provinsiale onderwysdepartemente het aangedui dat hulle besig is met ‘opleiding’. Dit is nie duidelik hoe mense opgelei kan word sonder regulasies nie.”

Hy sê verder dat die datum van die verkiesing reeds einde verlede jaar in die Staatskoerant geplaas is. Dit begin op 1 Maart en duur tot 31 Maart. Daar is egter net 14 skooldae in Maart, wat beteken dat skole hul verkiesing so vroeg moontlik moet hou. Riglyne bepaal egter ook dat skole 30 dae voor die verkiesing aansoek moet doen vir die model van die verkiesing, wat beteken dat dit nou onmoontlik is om vroeg in Maart ʼn verkiesing te hou.

“Die nasionale taakspan het gekyk na verskillende modelle van verkiesing, byvoorbeeld ʼn e-verkiesing, en het baie werk gedoen om die proses so maklik moontlik te maak. Die taakspan het bestaan uit senior amptenare van die departement van basiese onderwys, beheerliggaamorganisasies en provinsiale onderwysdepartemente.”

Fedsas het ook versoek dat die onderwysminister die mag kry om een stel regulasies vir die hele land af te kondig, juis om die huidige toedrag van sake te voorkom. Die voorstel is in die Bela-konsepwet vervat.

“Daar is soveel onlangse voorbeelde wat op die minagting dui wat die regering vir die Skolewet het. Die wet maak spesifiek voorsiening vir openbare skole en nie staatskole nie. Openbare skole behoort aan die gemeenskappe waar hierdie skole geleë is, maar op provinsiale en dikwels ook nasionale vlak gaan onderwysamptenare uit hul pad om hierdie reg te ondermyn,” het Deacon gesê.

“Buiten dat die regulasies nie betyds gepubliseer is nie, is daar ook geen duidelike bemarkingsveldtog van die skoolbeheerliggaamverkiesings deur provinsiale onderwysdepartemente nie. Die boodskap is duidelik: openbare skole en die verkiesing van beheerliggaamlede is nie belangrik nie. Dieselfde boodskap is ook duidelik in die omstrede Bela-konsepwetgewing.”

Fedsas doen opnuut ʼn beroep op elke onderwys-LUR om dadelik die verkiesingsregulasies te publiseer en af te sien van die 30-dae-vereiste om aansoek vir die verkiesingsmodel te doen. Die federasie versoek ook dat die minister toesien dat die provinsies uitvoering aan die Skolewet gee.

“Ons doen ook ʼn beroep op geloofsgemeenskappe, gemeenskapsorganisasies en ander rolspelers om ouers te motiveer om betrokke te raak by die verkiesing.

“Meer as 250 000 beheerliggaamlede moet verkies word by die land se 22 511 openbare skole. Dink net hoe ʼn sterk stem openbare skole as geheel sal hê met ʼn kwartmiljoen kundige en passievolle SBL-lede.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai 250 000 bestuurslede word dalk ‘n probleem vir die regime.

Andre ·

…BL se dae is getel.
Die A en C wil self die rëels bepaal en aanpas, soos hulle goeddink .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.