Kommer oor gesloer met Kieswet-uitspraak

(Foto: Elaine Krige/Maroela Media)

Geskryf deur:  Tania Broughton, GroundUp

Onafhanklike verkiesingskandidate is bekommerd oor die Konstitusionele Hof se oënskynlike versuim om betyds uitspraak te lewer oor ʼn saak wat belangrike gevolge vir dié kandidate in volgende jaar se verkiesing het.

Die hof het in Augustus ʼn saak aangehoor oor die deelname van onafhanklike kandidate in die verkiesing, maar drie maande later steeds geen uitspraak gelewer nie.

Zackie Achmat, ʼn aktivis wat volgende jaar as onafhanklike kandidaat in die nasionale verkiesing staan, het nou ʼn brief aan hoofregter Raymond Zondo gestuur waarin hy hom op die kwessie wys.

Achmat is nie direk by die hofsaak betrokke nie, maar sê hy word deur die uitspraak geraak.

Volgende jaar is die eerste keer wat onafhanklike kandidate aan die verkiesing kan deelneem nadat die Kieswet hierdie jaar gewysig is. Die Vereniging vir Onafhanklike Kandidate en Build One SA het egter bogenoemde aansoek by die hof ingedien om die Kieswet ongrondwetlik te laat verklaar. Die partye meen onafhanklike kandidate word benadeel, aangesien hulle meer stemme as politieke partye op hulle moet verenig om ʼn setel in die parlement te kry.

Die aansoek word deur die minister van binnelandse sake, sowel as die parlement teengestaan. Mosotho Moepya, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het ook onlangs aan die parlementêre komitee oor binnelandse sake gesê die feit dat geen uitspraak nog gelewer is nie, maak hulle angstig.

“Die OVK kan eers die reëlings vir die verkiesing finaliseer wanneer die uitspraak gelewer is. Ons het gehoop dit sal voor die einde van September wees.”

In sy brief aan Zondo vra Achmat vir ʼn tydraamwerk vir die lewering van die uitspraak, al is dit ʼn bevel sonder dat redes verskaf word.

“Sover ek kan vasstel, is ek die enigste onafhanklike kandidaat wat my kandidaatskap amptelik aangekondig het. Soos ek verstaan wag ander kandidate vir die uitslag van die hofsaak om te beskuit of hulle wel sal staan.”

Hy is tans besig om die sowat 13 000 handtekeninge in te vorder wat nodig is om as kandidaat in die Wes-Kaapse omgewing genomineer te word.

“Ek verstaan dat hierdie ʼn ontsaglik moeilike saak is om oor te besluit en die hof moenie aangejaag word nie, maar dit is nou al drie maande sedert die argumente aangehoor is.

“Die datum vir nominasie en verkiesing kom al nader en die gebrek aan sekerheid vererger die onsekerheid oor die hele kwessie,” sê hy. “Hierdie besluit het nie net ʼn impak op my en my verkiesingsveldtog nie, maar ook op voornemende kandidate wat al minder tyd het om die nodige handtekeninge in te samel. Ek is bevrees ʼn verdere vertraging sal begin om die kiesproses self in die wiele te ry.”

Die kantoor van die hoofregter het nog nie op GroundUp se navrae gereageer nie. Mbekezeli Benjamin van Judges Matter het aan die nuuswebwerf gesê hoewel ʼn uitspraak in so ʼn belangrike saak noodwendig tyd neem, is dit nodig dat die Konstitusionele Hof die saak met dringendheid benader. “Daar is geen rede nie hoekom die hof nie voorlopig ʼn bevel kan maak sonder om redes te verskaf nie. Dit sal die regters genoeg tyd gee om ʼn goed deurdagte uitspraak te lewer, terwyl die OVK en onafhanklike kandidate genoeg tyd het om voor te berei.

Die Konstitusionele Hof is gewoonlik heel vinnig om oor kwessies rakende die verkiesing te besluit.

Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn. Lees dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Die onafhanklike kandidate is ook eintlik net ‘n stok in die wiel.Hierdie mense kry so min stemme maar dan wil hulle ‘n sitplek in die parlement hê en ook ‘n sê hê in die aanstel van koalisies.Ek sou dit teenstaan.Hulle moet hulle eerder skaar by gevestigde patye.Daar is genoeg klein partye wat nerens gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.