Kommer oor studie vir steenkoolmyn by Rietvlei-reservaat

(Foto: Argieffoto)

Die burgerregteorganisasie AfriForum is bekommerd oor die “uiters gebrekkige” omgewingsimpakstudie wat gedoen is ter stawing van omgewingsmagtiging vir ʼn steenkoolmyn wat sal grens aan die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria.

Daar word reeds op die perseel vir klei gemyn.

Die departement van minerale hulpbronne en energie het die myn vroeër vanjaar aangemaan om ʼn terugwerkende aansoek vir omgewingsmagtiging in te dien. Die opdrag volg nadat dit aan die lig gekom het dat steenkoolreserwes wat gedurende die kleimyn se gewone bedrywighede blootgelê is, sonder die nodige magtiging gemyn word.

Die aansoek is onderworpe aan ʼn basiese impakbepalingsproses en die Konsep Basiese Impakbepalingsverslag is tans vir openbare kommentaar beskikbaar.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake, sê die organisasie is bekommerd oor dié gebrekkige verslag wat die omgewingsimpak-bepalingspraktisyn saamgestel het.

Volgens De Vaal is die verslag deurspek met teenstrydighede en dit lyk asof gedeeltes van die teks sonder enige aanpassing uit ander verslae gekopieer is.

“Indien dit werklik die geval is, is dit plagiaat en bedrog,” sê De Vaal. “Die omgewingsimpak-bepalingspraktisyn het ʼn wetlike en professionele verpligting om feitelik korrekte inligting weer te gee.”

AfriForum sê voorbeelde van teenstrydighede en moontlike kopiëring van inligting sluit in:

  • In die verslag word daar melding gemaak van “omgewingsmagtiging” en ʼn “watergebruiklisensie”, terwyl daar elders na ʼn “afvalbestuurslisensie” verwys word.
  • Op een plek dui die verslag op “vyf jaar se steenkoolreserwes” terwyl dit elders lui dat daar vir “30 jaar gemyn” gaan word.
  • In die verslag word dit op een plek duidelik gestel dat die myn “reeds operasioneel” is en “geen konstruksie gaan plaasvind” nie, terwyl die “omgewingsimpak gedurende die konstruksiefase” pertinent in ʼn ander gedeelte bespreek word.
  • Daar word na provinsiale wetgewing van die Noord-Kaap verwys.
  • Daar word na bedrywighede verwys wat stroomaf van die Marico Bosveld-dam en die Molatedidam in die Maricorivier plaasvind.
  • Wesenlike faktore wat in ag geneem moet word, soos die kumulatiewe uitwerking van mynbou in die omgewing, word slegs oorsigtelik bespreek.

De Vaal sê dit is ʼn kommerwekkende neiging wat al hoe meer in aansoeke vir omgewingsmagtiging opgemerk word.

“Die gevaar is dat die bevoegde owerheid se besluit om magtiging toe te staan al dan nie op ongegronde feite gegrond sal word as mense nie sulke gebreke betyds raaksien en beswaar daarteen maak nie.”

AfriForum het reeds as ʼn belanghebbende en geraakte party geregistreer om ingelig te bly oor die aansoek en te probeer verseker dat enige besluite op feite gegrond word.

“Die gerugte oor ʼn beplande steenkoolmyn teenaan die Rietvlei-natuurreservaat wat onlangs op sosiale media die ronde gedoen het, stook bloot gemoedere op en dit dra nie by om hierdie kwessie objektief en rasioneel te beoordeel nie.”

AfriForum moedig lede van die publiek aan om betrokke te raak en ook as belanghebbendes te registreer om enige besware te opper. Toegang tot die verslag kan op die omgewingsimpak-bepalingspraktisyn se webwerf verkry word.

ʼn Openbaredeelname-vergadering vind Vrydag 8 September om 11:00 by die Pretoria-seiljagklub by die Rietvleidam plaas.

Die sluitingsdatum vir lede van die publiek om kommentaar te lewer is 26 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Porseleintjie ·

Jy moet in die bol gepik wees om langs Rietvlei natuurreservaat te gaan myn. Waar gaan die water vandaan kom? Rietvleidam? Hou maar verby hoor.

Nico ·

Kan jy nou meer, met hierdie toegewing wat swak ondersoek is deur swak geograwe, is om die bestaande natuur reservaat te verwoes. Stop dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.