Konstabel in hof oor korrupsie

(Argieffoto)

ʼn 37-jarige konstabel het Donderdag in die Madikwe-landdroshof in Noordwes verskyn nadat hy glo ʼn lid van die publiek omgekoop het.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê die polisie se teenkorrupsie-eenheid het konst. Kgomotso Montsho Dinsdag in Madikwe, noord van Swartruggens, in hegtenis geneem.

“Volgens voorlopige inligting het Montsho die slagoffer gebel en omkoopgeld geëis in ruil daarvoor dat hy ʼn saak sou terugtrek,” sê Mokgwabone.

“Met inligting tot die polisie se beskikking het hulle op Montsho toegeslaan kort nadat hy R5 000 se omkoopgeld ontvang het. Die geld is in sy besit gevind.”

Montsho is verbonde aan Madikwe se speurderafdeling.

Montsho staan tereg op aanklag van korrupsie en dwarsboming van die gereg. Hy is Donderdag op R500 borgtog vrygelaat. Hy sal na verwagting weer op 6 September in die hof verskyn.

Die polisie gaan ook ʼn interne dissiplinêre ondersoek van stapel stuur.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het die polisie se teenkorrupsie-eenheid geloof vir die vinnige reaksie wat tot Montsho se inhegtenisneming gelei het. Hy het daarop gewys dat korrupsie nie geduld kan word nie, veral nie onder die wetstoepassers van die land nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Wat ‘n skande en hy’s in speurder afdeling. Dis nou mense wat ons moet vertrou en beskerm. Ek’t nie woorde vir die streke meer nie regtig

Nie Verbaas ·

Kom ons kyk of hy ook 50 jaar gevangenisstraf kry soos die Adjudant Offisier wat gevang is vir dieselfde oortreding.

Harley Davidson ·

Ek wonder wat die persentasie korrupte polisie beamptes is in Suid-Afrika wat elke dag opdaag vir werk met die wete dat hy/sy net daar is om niks positiefs te doen nie.

Skuilnaam ·

Feit: GEEN geregsdienaar kan vertrou word nie. Hulle is korrup – ALMAL van hulle.

SjN ·

Daar is nog hier en daar enkeles onder hulle, ongelukkig maak een vrot vrug die hele sak sleg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.