Koronavirus: Twee Oseane-marathon gekanselleer

Argieffoto (2018) (Foto: Twee Oseane-marathon-webwerf)

Die organiseerders van die Twee Oseane-marathon het aangekondig dat dié wedloop vir 2020 gekanselleer is te midde van die nuwe koronavirus (Covid-19)-pandemie.

Die raad het Saterdag ʼn dringende vergadering belê en eenparig besluit om alle geleenthede wat tussen 8 en 11 April vir die Twee Oseane-marathon geskeduleer is, te kanselleer.

“Ons het die status van die koronavirus-pandemie gemonitor en ons was in gesprek met kenners oor openbare gesondheid en owerhede,” het Debra Barnes, direkteur van die wedloop, in ʼn verklaring gesê.

“Die gesondheid en veiligheid van deelnemers, personeel, borge en die wêreldwye gemeenskap is ons hoogste prioriteit en die risiko is te groot dat ʼn geleentheid op só groot skaal voortduur. Ons het dus die moeilike besluit geneem om die wêreld se mooiste ultramarathon vir 2020 te kanselleer.”

Die organiseerders het gesê hulle besef talle hardlopers sal baie teleurgesteld wees met die aankondiging en hulle bly verbind om volgende jaar ʼn uitsonderlike wedren-ervaring vir alle rolspelers te verseker.

Die organiseerders sal verder direk kommunikeer met alle deelnemers wat vir die Twee Oseane-marathon vir 2020 ingeskryf het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.