Korrupsie, wanbestuur by Wonderboom-lughawe – verslag

Foto: Facebook

ʼn Verslag met skreiende bevindings oor beweerde wanbestuur, onregmatige besteding en ander onreëlmatighede by die Wonderboom- nasionale lughawe is op die laaste nipper onttrek toe dit verlede Donderdag voor die Tshwane-metro se maandelikse raadsvergadering sou dien.

Die raad se oorsigkomitee vir paaie en vervoer het die verslag opgestel nadat die lughawe in Julie onder dié departement se beheer teruggeplaas is. Dit nadat die lughawe letterlik in die grond in bestuur is terwyl dit onder die kantoor van Tshwane se burgemeester en daarna onder die stadsbestuurder geval het.

Wonderboom bestaan sedert 1937 en was voorheen een van die beste kleiner lughawes in die land. Tweehonderd sakeondernemings word op die lughawe se terrein van sowat 350 hektaar bedryf.

Maroela Media het vroeër breedvoerig berig oor Professional Aviation Services (PAS) wat onwettig deur die kantoor van Tshwane se stadsbestuurder aangestel is. PAS was verantwoordelik vir sekerheidsopleiding in die lugvaartbedryf vóór die maatskappy in 2017 oornag en sonder die nodige ondervinding aangestel is om die Wonderboomlughawe te bestuur.

Wonderboom-lughawe (Foto: Gauteng.net)

Luidens die verslag is dit kommerwekkend dat geen van die voorwaardes van PAS se aanstelling nagekom is vóór die maatskappy die lughawe begin bestuur het nie. Daar is ook verdere kommer uitgespreek omdat PAS op die oomblik meer as R800 000 per maand betaal word.

“Die lughawe word tans slegter bestuur as twee jaar gelede en gaan steeds agteruit,” word in die verslag gesê.

Dit is verder bevind dat sowat R13 miljoen verduister is toe ʼn loods en ʼn opleidingsentrum by Wonderboom gebou is. Buiten die geld wat weg is, is die lughawe se begroting vir instandhouding gebruik om dié geboue op te rig.

Die opleidingsentrum staan leeg en die loods is so swak gebou dat dit nie as stoorplek gebruik kan word nie omdat dit waarskynlik sal oorstroom as dit reën. Daar is ook nie ʼn beroepsgesondheid- en  veiligheidsertifikaat of ingenieursklaring vir die geboue uitgereik nie.

Die metro het ook sowat R3 miljoen betaal aan NTV, ʼn maatskappy wat ʼn hysbak by die lughawe moes installeer, maar dit nooit gedoen het nie. In 2018 is R800 000 bestee aan ʼn sogenaamde groen muur, maar die lughawebestuur het geen idee waarvoor die geld werklik aangewend is nie. Verder is kontrakteurs betaal vir rookalarms, heinings, tydelike kantore vir SARS, die SAPD en die metropolisie, maar nie een van dié kontrakte is voltooi nie.

Die Tshwane-ondersoekeenheid wat twee jaar gelede deur die burgemeester se kantoor na die lughawe gesekondeer is, het tot dusver geen verslae oor hulle bevindings ingedien nie en die oorsigkomitee vra in hul verslag dat al die sake na wetstoepassers soos die Valke verwys word en dat ʼn forensiese oudit van die uitgawes gedoen word. =

Die oorsigkomitee het ook vasgestel dat Both Best, die sekerheidsmaatskappy wat 75 wagte op ʼn roterende grondslag by die lughawe in diens het, maandeliks R1,1 miljoen deur die munisipaliteit betaal word. Die wagte verdien egter slegs R6 200 per maand terwyl Both Best gemiddeld R13 000 per wag betaal word. Die verslag vra dat ʼn deeglike ondersoek na die sekerheidsmaatskappy gedoen word om vas te stel of hulle aan die nodige standaarde voldoen.

Die verslag verwys ook na die feit dat brandstof by die lughawe vir die laaste keer in 2018 aangekoop is toe die kontrak met die diensverskaffer verval het. Die “laaste druppel” is in Maart vanjaar verkoop.

Die een prestasie wat die oorsigkomitee wel gevind het, was dat die ligte op die aanloopbaan 24 uur per dag werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Theresa ·

Dit wys jou nou maar net. Oor en oor en oor dieselfde gemors by verskillende instansies, maar voort gaan hul voort hoor! Lekker om ander se geld te spandeer op snert en die ander helfte in jou sak te steek.

Die verlee skaap ·

Dan is dit mos eintlik WSA
Wonderboom Spaza Airport

Sam ·

Standaard in ons land.elkeen wat n vriend in _goverment- het laat hom kom vir lekker bonus.

Fred ·

En nou het ons hier in die Raad DA en VF plus raadslede……wat maak hulle?Baie beloftes maar Geen Dade……

Arak ·

Ek stem volkome saam. Waar is die aanspreeklikheid? Waar is die vervolging? Dan praat ons nie eers van die korrupte rug-aan-rug eiendomstransaksies wat ons miljoene der miljoene gekos het nie. Dalk tyd dat die partye minder praat en begin vervolg.

Ellisras ·

Die een prestasie is dat die ligte 24 uur per dag werk. Ag nee. Ligte moet net werk as dit donker is. Dit is geld or in die dag. Maar die mense weet seker nie.

chris ·

Skande Dit is hoekom die land in die toestand is Daar word nie onmiddellik opgetree nie laat godswater oor godsakker loop Geen rentmeesterskap

Vee ·

Hoe verder ek die berig gelees het hoe meer het ek n snaakse kol op my maag gekry , ek voel skoon siek en depressief na die verslag . . .
Als klink na n grappie of iemand terg jou net , want hoe op dees aarde ” herstel ” mens so iets weer tot sy volle potensiaal na dit !!!

Blom ·

Alles is besig om ten gronde te gaan.. Wat nog???!!!! Is daar enige iets in die land wat vlot verloop?? Wat gaan op die ou einde van die dag oorbly?

thelsa ·

Sal die laaste persoon wat die land verlaat, asb die kers doodblaas – daar is ook geen meer ligte om af te sit nie.

KOBUS ·

die land is in verkeerde hande en hulle breek als af omdat hulle ik te laag is

AJB ·

Ja, Wat is volgende. Ek glo nie daar sal ooit ‘n einde kom aan die korrupsie nie. Dit maak mens bang. Die Zondo Kommissie sal, solank ANC in beheer, is besig bly.

Bert ·

Kan net dink hoe lekker lag hulle nou, niks is nog ooit terug verhaal nie, so niks om oor te worrie nie.
Hulle kon seker nie glo dat ons in die referendum gestem het: hier is ‘n hele land in ‘n goeie gesonde toestand vir julle waarmee julle kan doen soos julle goed dink.

Doris ·

Ek dink dit is nou tyd dat hulle Wonderboom lughawe maar moet sluit. Anders wie se geld moet nou weer gaan vir daardie skulde een klomp skep en die ander klomp moet net opdok. En vat eenmaal almal wat daarby betrokke is en bêre hulle vir goed. Alles gaan nou net te gronde.

Feite ·

Die swak bestuur, korrupsie, misdaad en agteruitgang sonder strafregtelike gevolge is maar nog net n voorsmakie van wat sosialisme na die land bring. Daar is nie n manier om vervolging in te stel teen die oorweldigende getalle van duisende kaders wie by alle instellings betrokke is by korrupsie en of misdaad. Verswelging met getalle in korrupsie en georganiseerde misdaad is ideologies deel van die rewolusionere “struggle” om kolonialisme te vernietig. Anti-rewolusionere opposisie partye het ongelukkig vir te lank geen lewensvatbare strategiee in plek gesit om die ANC se kaderontplooiing te verhoed of te stuit nie en nou sit hulle in n dilemma in malema straat!

Leon ·

Verkoop die lughawe en maak hom privaat soos Lanseria. Lanseria is besig om vooruit te gaan en weer op te staan en homself te laat geld. Verwyder dit van ‘n staatsdepartement. af en maak dit privaat.

Niklaas ·

Reg so. Ons voeg dit dan ook by die groeïnde lang lys van instansies waar korrupsie , knoeiery en onbevoegdheid die leuse is. Wanner hoor ons ooit weer van n SA maatskappy waar wanbestuur nie teenwoordig is nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.