Koslegende se ‘plek aan tafel nou leeg’

Peter Veldsman (Foto: Facebook/Errieda du Toit)

Peter Veldsman, bekende koskenner en skrywer, is vanoggend (16 April) in die ouderdom van 82 dood.

Die oorsaak van sy dood is nie bekendgemaak nie.

Elizabeth Catharina (soos sy bekend staan), Peter se kleinkind, het die nuus op sosiale media bevestig.

“Hy was rustig en ek het ʼn paar keer saam met hom in die intensiewe sorgeenheid gebid.”

Veldsman was ʼn kosjoernalis, -skrywer en -entoesias wat Suid-Afrikaners dekades lank geïnspireer het om met ander oë na kos te kyk. Huldeblyke vir dié Kaapse koslegende het sedert sy dood op sosiale media ingestroom.

“My hart is gebreek, want ʼn Suid-Afrikaanse ikoon met soveel kennis is weg,” skryf Herman Lensing, Sarie-tydskrif se kosredakteur, op Facebook.

Peter Veldsman (Foto: Facebook)

Veldsman het byna twee dekades lank as kosredakteur by dié tydskrif gewerk.

Lensing skryf verder: “Dankie Peter vir die wysheid wat jy so ruim gedeel het. Daar was net een soos jy en jou plek aan die Suid-Afrikaanse kostafel is nou leeg… ai, my hart is seer. Ek voel skuldig want ons wou nog kuier… wou nog is nou te laat.”

Veldsman het in sy loopbaan verskeie resepteboeke uitgegee, insluitend Kos van die eeu, Happies, Seekos-banket, ʼn Mondvol lekker en Teetydtreffers.

Benewens die restaurante wat hy in sy leeftyd bedryf het, het hy ook onder meer die eerste cordon bleu-sjefskool in Suid-Afrika gestig. Hy het ook as voorsitter van Chaîne des Rôtisseurs en The Culinary Circle van Suid-Afrika gedien.

“Vir langer as 50 jaar het sjef Veldsman voortou geneem in die Suid-Afrikaanse kulinêre kunste,” sê die Suid-Afrikaanse sjefsvereniging op Facebook.

“Hy het generasies geïnspireer met sy toewyding, passie en kennis. Hy het baie hoede gedra: ʼn onderwyser, resepteboekskrywer, restauranteienaar, bekroonde kosskrywer en onvermoeibare voorstander van die kulinêre wêreld.

“Hoewel ons sy afsterwe betreur, sal sy nalatenskap aanhou om Suid-Afrikaanse sjefs te inspireer.”

Arnoux Marais, die Wes-Kaapse minister van kultuur en sport, betreur ook Veldsman se afsterwe.

“Hy was ʼn seun van Ladismith en Kannaland, wat studeer en wyd gereis het, maar nooit sy wortels vergeet het nie. Hy het sy kennis van tradisie, gekoester deur sy ouma, ma en tannies, gekombineer met die beste en nuutste wat die kulinêre wêreld gehad het om te bied,” lui ʼn verklaring deur Marais.

“Ek is diep hartseer oor sy afsterwe en dra my opregte medelye aan sy familie en geliefdes oor in hierdie uitdagende tyd.”

Tientalle mense het ook huldeblyke gelewer, onder wie die rubriekskrywer Murray la Vita en die sangeres Amanda Strydom.

Nic van Wyk, ʼn bekroonde sjef in eie reg, onthou die keer goed toe Veldsman in Van Wyk se kombuis gekook het.

“Dit was seker een van die laaste kere wat Peter Veldsman in ʼn sjefsbaadjie was en gekook het in ʼn kombuis. Ek was bevoorreg genoeg dat dit in my kombuis was, en die mense wat die dag daar was sal weet hoe spesiaal dit was. Ons kan net dankie sê.

“Jou skof in die kombuis is nou verby, Peter, geniet die rus.”

Peter Veldsman (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oesterbaaier ·

Hy was ‘n ikoon, sy afsterwe laat ‘n groot leemte.

Marietjie ·

‘n Reus het groothuistoe verhuis- enig in sy soort! Rus sag ou vriend, ons sal jou nooit as te nimmer kan vergeet!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.