Kostebevel teen metro oor onwettige tariefheffings

(Argieffoto: pixabay)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek ’n kostebevel teen die Stad Tshwane gekry.

Die organisasie het hom verlede jaar na die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gewend oor kragtariefheffings wat die metro sonder die nodige goedkeuring van die nasionale energiereguleerder (Nersa) geïmplementeer het. Dié bevel beteken Tshwane moet nou AfriForum se regskoste betaal.

Koopkraggebruikers in die Jakarandastad moes verlede jaar van Julie tot middel Augustus hoes om vir heffings te betaal wat nooit goedgekeur is nie. Dié heffings is later ná volgehoue druk deur AfriForum terug verander na ʼn tarief wat wel deur Nersa goedgekeur is, sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“AfriForum het die saak aangepak om die inwoners van Pretoria te beskerm teen die onwettige verhoging. Hoewel ons die kostebevel gekry het, is ons steeds nie gelukkig oor die feit dat koopkragverbruikers se geld nog nie terugbetaal is nie.”

Grobbelaar kon nie in dié stadium sê hoeveel die regskoste beloop nie.

Grobbelaar sê die metro het die organisasie tydens ’n bestuursvergadering hand en mond belowe om verbruikers ná die onwettige tariefverheffings te vergoed. Dié terugbetaling moes egter al in November 2019 geskied het.

“Ons sal aanhou om druk op die metro en Nersa toe te pas totdat verbruikers vergoed word vir die onwettige verhoging wat hulle moes betaal.”

Volgens Grobbelaar het Nersa AfriForum intussen in kennis gestel dat hy ’n brief, wat op 16 Januarie aan hom gerig het, ontvang het en dat die saak tans met die uitvoerende hoof bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louis ·

Hierdie DA administrasie is net so korrup soos die parrasiet ANC voor hulle. Skielik is my Tshwane water en ligte rekening aansienlik hoer as normaal, dit ten spyte van die feit dat ek elke maand foto’s neem van my meters en instuur. Die kersie op die koek….sms’e wat staaf dat jy belowe het om die ‘uit die duim suig’ rekening te betaal. Basta!

henndrik ·

Ek reken verantwoordelike persone moet persoonlik aanspreeklik gehou word want die belastingbetalers gaan nou die koste ook moet dra

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.