Koue, nat naweek lê voor

(Argieffoto: Erik Witsoe/Unsplash)

Pak uit die serpe en bring die sambrele.

Die weerdiens sê aanhoudende buie en donderbuie kan veral Sondag en Maandag lei tot oorstromings oor die sentrale en oostelike dele van die land, terwyl hewige donderbuie met swaar reënval en groot hoeveelhede klein haelkorrels oor die westelike binneland Sondag en Maandag ʼn moontlikheid is.

Lehlohonolo Thobela, voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê ʼn intense laedrukstelsel (ook bekend as ʼn afsnylaagtepunt) gaan van Saterdag tot Dinsdag in die sentrale en suidoostelike dele voorkom, waarna warmer toestande in die noordelike dele van die land sal heers.

Afsnylaagtepunte is weerstelsels wat wydverspreide oorstromings veroorsaak, soos blyk uit 2022 se vloede in KwaZulu-Natal en dié in die Laingsburg-gebied in 1981. Dit kan ook verwoestende wind, hewige donderstorms en selfs sneeu tot gevolg hê.

Die naweek se koeler, nat weer kom ná onlangse langdurige hittegolwe en ondergemiddelde reënval oor ʼn groot deel van Suid-Afrika se binneland. Koeler en onstuimige weerstoestande word die naweek oor verskeie streke verwag. Buie sal na verwagting Sondag oor Gauteng, Limpopo, die Oos-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal uitsak.

Afsnylaagtepunte kom meestal in die herfs en lente voor, met die hoogste voorkoms gedurende April.

Tropiese vog wat van Woensdag van buurlande na die sentrale en oostelike binneland versprei, is verantwoordelik vir die wydverspreide reënval wat Woensdag en Donderdag voorgekom het en Donderdag en Vrydag na die suidelike dele van die Wes-Kaap en dele van die Oos-Kaap versprei.

Dele van die Overberg en suidwestelike kus van die Wes-Kaap kan Maandag swaar reën te wagte wees, wat kan duur tot Dinsdag wanneer die laedrukstelsel die suidelike Wes-Kaapse kusgebiede verlaat.

Koel tot koue maksimum temperature word van Saterdag oor dele van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag, met dagtemperature van hoog in die tiene en lae twintig grade Celsius.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.