Koue, nat naweek vir Oos-Kaap voorspel

Argieffoto (Foto: Sourabh yadav/Pixabay)

ʼn Kouefront het Donderdag die land genader en oornag verder oor die binneland van Wes- en Oos-Kaap beweeg. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dit het bewolkte en koue toestande na hierdie provinsies gebring.

Reënval het reeds in die suidelike dele van die land begin voorkom, met koue, reënerige toestande wat oor die naweek sal voortduur, soos wat hierdie toestande verder noordwaarts en ooswaarts oor suidelike Afrika verskuif.

Terwyl sneeuval oor die bergagtige streke van al drie die Kaapprovinsies verwag word, word daar verwag dat die sneeuval hoofsaaklik relatief lig en van ʼn onreëlmatige, nie-ontwrigtende aard sal wees.

Die belangrikste en mees beduidende aspek ten opsigte van die weer vir hierdie naweek is dat numeriese weervoorspellingsmodelle aandui dat beduidende swaar reënval, tussen 100 mm en 200 mm, waarskynlik sal Saterdag voorkom oor die oostelike dele van Oos-Kaap, spesifiek tussen Oos-Londen en Port St Johns, insluitend die aangrensende binnelandse streke.

Verder word verwag dat daar aanhoudende reënval sal wees oor hierdie gebied op Sondag, 14 Mei (verwys na Figuur 1), wanneer beduidende reënval oor dele van KwaZulu-Natal versprei. Aanhoudende reënval, wat versterk word deur volgehoue koel, vogtige vloei teen die kus-topografie, sal waarskynlik ook lei tot gelokaliseerde stedelike en rivier-oorstromings, sowel as skade aan infrastruktuur.

Met die verwagting van ʼn langdurige periode van koue, nat weer, asook die moontlikheid van sneeuval oor die bergagtige streke van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap, word kleinveeboere aangeraai om diere na droë skuilings te skuif. Slegs ervare, goedvoorbereide bergklimmers moet hierdie naweek staproetes in Wes- en Oos-Kaap, asook KZN (veral die Drakensberg-streek) aandurf. Die risiko van verkluiming in bergagtige terrein, veral indien iemand verdwaal, beseer of swak voorbereid is, kan lewensgevaarlik wees.

Dagtemperature vir die naweek sal na verwagting oor die binneland van die Kaapprovinsies tussen 12 °C tot 16 °C wees, met koue, nat toestande wat tydens die naweek na die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en KZN sal versprei.

Die publiek word gemaan en aangemoedig om gereeld weervoorspellings dop te hou op die televisie, radio en sosiale media. Die jongste inligting sal gereeld beskikbaar wees by www.weathersa.co.za asook die SA Weerdiens se Twitter-profiel by @SAWeatherServic.

Figuur 1: Numeries gemodelleerde 24-uur-reënval in mm, gebaseer op die GFS-model, geldig vir Saterdag, 13 Mei 2023 (links) saam met die ooreenstemmende beeld wat geldig is vir Sondag, 14 Mei 2023 (regs). Let op die uiters hoë reënvalwaardes wat vir die oostelike dele van die Oos-Kaap op Saterdag voorgestel word, wat Sondag voortduur. Bron: GFS deterministiese NWP-model.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.