Koue, nat weer hou soek-en-reddingspanne reeds besig

Spanlede van WSAR behandel ‘n beseerde stapper op die India Venster-staproete. (Foto: Nicholas Burger)

Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het mense gemaan om ekstra waaksaam te wees wanneer hulle staproetes aandurf, nadat reddingswerkers Saterdag in minstens drie afsonderlike gevalle mense na veiligheid moes help bring.

“Ons sien groot getalle buitelugliefhebbers wat staproetes invaar ondanks die winterweer,” sê David Nel, ʼn woordvoerder van WSAR.

“Hoewel ons almal aanmoedig om die pad na buite te vat om die skoonheid van die Wes-Kaap te waardeer, doen ons ʼn beroep op almal wat die wildernis hierdie tyd van die jaar verken om ekstra versigtig te wees.

“Verwag koue en reënerige toestande oor die volgende paar maande. Maak seker jy pak ʼn waterdigte laag en ekstra warm klere in wanneer jy die pad vat. Wees versigtig wanneer jy naby riviere of op nat en gladde roetes stap,” sê Nel.

Die liggaam van ‘n stapper wat in die Nuwelandwoud ineengestort en gesterf het, word uit die woud gedra. (Foto: Ian Austin)

In een van die voorvalle is ʼn 75-jarige stapper dood nadat hy Saterdagmiddag in die Nuwelandwoud ineengestort het. Spanne van WSAR is ontplooi ná ʼn oproep om hulp van ander stappers.

“Ongelukkig het die man met die spanne se aankoms reeds gesterf. Sy liggaam is op ʼn draagbaar geplaas en na die begin van die roete gedra, waar hy aan die polisie oorhandig is.”

In nog ʼn voorval is ʼn 64-jarige stapper na veiligheid gebring nadat sy haar enkel sleg geswik het en nie verder kon stap nie.

ʼn Span is met ʼn helikopter na die Hexrivierberge noord van Worcester gevlieg nadat die vrou die besering op pad na Disa Dell opgedoen het.

“Sy is in die helikopter opgehys en na ʼn nabygeleë landingsone gevlieg, waar ʼn ambulans gewag het om haar na ʼn hospitaal te neem,” lui ʼn verklaring van WSAR.

Die koue, nat weer hou soek-en-reddingspanne reeds besig. (Foto: Isak Wüst)

En Saterdagoggend is spanne ook na die laer kabelspoorstasie ontbied nadat ʼn stapper ʼn besering op die India Venster-staproete opgedoen het.

Die 66-jarige het op die nat roete gegly en is beseer. “Hy kon nie verder stap nie en ʼn oproep is na die noodnommer gemaak.”

Verskeie spanlede het vinnig na die beseerde man gestap waarna hy ondersoek is en ʼn paramedikus hom behandel het. Hy is ook in ʼn reddingshelikopter opgehys voor ʼn ambulans hom na ʼn hospitaal geneem het.

“Ons wens ons pasiënt ʼn spoedige herstel toe en betuig ons diepe medelye met die familie en vriende van die stapper wat gesterf het,” sê Nel.

WSAR maak staat op die vrygewigheid van ander en het mense vir hul voortgesette bydraes bedank. Die organisasie bestaan uit ʼn netwerk van staatsagentskappe en burgerlike vrywilligersgroepe wat met soek-en-reddingsoperasies help.

  • In geval van nood op ʼn staptog in die streek, bel WSAR by 021 937 0300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.